Sensoriese aktivering vind plaas indien van ons sintuie—sig, reuk, tas, propriosepsie (bv. Terugvoer van die drukking op gewrigte deur beweging), gehoor – oor of onder gestimuleer word. Die mens se brein funksioneer soos ‘n kragtige, ingewikkelde rekenaar. Jou sintuie dra die informasie vanaf die omgewing na die brein. Die brein interpreteer dan die inligting en vertel jou liggaam hoe om te reageer.
Indien daar egter kompeterende sensoriese inligting na die brein deurgegee word, kan die brein dit nie interpreteer nie en die brein “vries” Dit kan aanleiding gee tot ‘n “veg” of “vlug” reaksie.
Sedert die begin van Covid-19 en die inperking, is verskeie mense se sintuie oor-geaktiveer.
• Ons kinders se sig: Hulle spandeer baie meer tyd op elektroniese toestelle soos televisies, rekenaars, ipads, tablette ens. Eerstens was dit a.g.v. van die streng inperking in die huis en hulle het baie min alternatiewe opsies gehad om hulle besig te hou. Ouers moes van die huis af begin werk en ten einde kinders besig te hou, is elektronika ingespan. Tweedens het kinders ingeskakel op aanlyn-onderrig. Dit het dus tot nog meer ure gelei wat ons kinders aan “skerms” blootgestel was. Hierdie het bygedra tot langdurige oor-stimulasie van kinders se visuele sisteme.
• Ons kinders se reuksintuig: Die gebruik van saniteerders met baie sterk alkohol en/of ander chemiese reuke regdeur die dag irriteer verskeie kinders se neuse sowel as vel. Die dra van maskers by die skool maak dat ons konstant bewus is van ons asemhaling en diegene met ‘n geneigdheid tot asma, beleef die dra van maskers as angswekkend.
• Ons kinders se gehoor: Dikwels is meer as een persoon in die huis op ‘n elektroniese toestel. Die kinders hoor dan ook meer as een “gesprek”. Klank is ook harder binnenshuis as buite.
Die inperking en veranderde leefstyle as gevolg van Covid-19 het ook tot gevolg gehad datvan ons ander sintuie onder-gestimuleer is.
• Die kinders se vestibulêre sisteem (geleë in die middeloor) Die kinders het nie die geleentheid gehad of baie minder geleentheid gehad om te hardloop, spring, rol, hang en swaai. Hulle kon net vir sekere tye oefen en was nie meer op ‘n daaglikse basis besig met aktiwiteite wat hierdie bewegings tot gevolg het nie. Om alles te kroon is sulke aktiwiteite ingeperk met die terugkeer skool toe. Geen klimrame, swaaie, stoei met maats, rugby, netbal of sport nie. Neurologies is die vestibulêre sisteem naby verwant aan die limbiese sisteem (wat emosies beheer). Met onder-stimulasie van die vestibulêre sisteem reageer kinders met veranderde emosionele reaksie van vlug of veg.
Die Veg of Vlug reaksies:
• Dit is opmerklik dat verskeie kinders tans meer onttrek, stil word en “sulk” met tekens van depressie of aan die ander kant van die spektrum, meer aggressiewe gedrag toon. Huilerige of bakleierige gedrag is tans meer opvallend en die kind wat altyd rustig en gemaklik was, manifesteer skielik meer onvoorspelbaar optrede. Hulle verstaan self nie wat gebeur nie en sukkel dan met vermanings en straf. Net so min soos wat ouers die vreemde optrede van hul kinders verstaan, net so min verstaan die kind dit. Dit is dus baie belangrik om geleenthede vir kinders te skep om voldoende te beweeg ten einde hul sintuie te stabiliseer. Langdurende wanbalans in die sintuie vereis tyd om te herstel en balanseer.