Hoërskool Witteberg in Bethlehem “gaan Google”, wat beteken dat ons die G Suite for Education-platform en die Classroom-app aanneem. G Suite is ‘n geïntegreerde oplossing vir kommunikasie en samewerking, aangebied deur Google en bestuur deur ons skool. Google Apps bied ons personeel die geleentheid om op bykans enige toestelle te kommunikeer, lêers te stoor en intyds aan dokumente en aanbiedings saam te werk, alles binne ‘n veilige aanlynomgewing.
Aangesien G Suite in ‘n webblaaier gebruik word, kan onderwysers en leerders vanaf bykans enige rekenaar – en op enige plek – werk sonder om nuwe sagteware te installeer. Hulle kan lêers maklik oplaai vanaf PC, Mac, Chromebook, iOS- en Android-tablette of mobiele toestelle. Die volledige reeks gereedskap wat binne G Suite beskikbaar is, sal ‘n hoë vlak van samewerking tussen personeel en leerders moontlik maak. Meer belangrik, dit sal ons in staat stel om gedurende hierdie onsekere tyd afstands- / aanlynleergeleenthede te bied met behulp van die Classroom-app.
`n Paar onnies en leerders het hul mening hieroor gelig;
Mnr. Hannes Oosthuizen (Skoolhoof)” Witteberg is trots om aan te kondig dat ons ten volle oorgeskakel het na Google as kommunikasie en onderrigplatform. Dit bied aan ons die geleentheid om direk met leerders te kommunikeer en hul via Google Classroom toegang te gee tot al hul vakke met betreffende notas en aanlyn-leer. Die platform is nie net gerieflik nie, maar ook gebruikersvriendelik m.b.t. alle toestelle. Ons is dankbaar vir hierdie oorskakeling tydens tye waar ontwrigting alledaags is. Alle akademiese kommunikasie is nou eksklusief tussen leerder en onderwyser en meer gesentraliseer. Geen leerder van buite Witteberg kan toegang hiertoe verkry nie. Ons leerders trek voordeel uit die sisteem omdat dit hulle voorberei vir tersiëreonderrig waar kommunikasie en akademie op dieselfde wyse geskied. Witteberg streef om op hoogte en inlyn te bly met die nuutste tendense in die onderwys en stel hiermee die maatstaf as Top Akademie skool in die Vrystaat. Iets waarop ons trots is. Voorwaar soos ons leuse sê, VOORUIT!”
Mev. Selbie Swart (Departementshoof – Fisiese Wetenskap) “Die virtuele borrel het Witteberg getref! Wat ‘n radikale ingreep op die onderwys. As ‘n mens in ag neem dat ongeveer 30% van die personeel matriek sonder die gebruik van ‘n sakrekenaar geskryf het, is dit ‘n paradigmaskuif om nou almal te spog met virtuele klaskamers waar elke kind dadelik toegang het tot al sy vakke vanaf een bladsy. ‘n G-Suite is ook geskep wat persoonlike veiligheid van ons leerders waarborg omdat slegs Witteberg-leerders en onderwysers toegang tot die blad het. Ouers kan wel via hul kinders prosesse monitor.
Om in onseker tye weer HOOP te vind, was ‘n lewensveranderende ervaring. Die opleiding het die personeel saamgebind tot een kragtige virtuele peloton. Skielik het amal hul afhanklikheid van mekaar beleef, ervare personeel moes staatmaak op jonger personeel wat met groot opgewondenheid en geduld almal aan boord gekry het. Virtuele klaskamers sal persoonlike kontak in ‘n klassituasie nooit klop nie, maar as dit jou enigste onderrigmetode is, dink ons Google bied uitsonderlike geleenthede. Die spoed, bekostigbaarheid vir personeel en leerders, asook die gebruikersvriendelikheid van die Google-stal verstom ons steeds elke dag. Geen sagteware word vereis nie, opdragte kan afgelaai word en dan kan leerders “”off-line” by die huis daaraan werk.
Ons as Witteberg-personeel 2020 sien die vestiging van hierdie model as ons nalatenskap aan ‘n skoolgemeenskap vir die toekoms. Ons dank aan die waarnemende skoolhoof, Mnr Hannes Oosthuizen wat met entoesiasme die projek gedryf het en Me Anne-Marie de Jongh wat met haar Wiskunde- prysgeld van 2019 die projek befonds het.”
Fritz Crous, Gr.12 Leerder – “Nou toe nou! Witteberg gaan “live” en nou het ons ook toegang tot Google classroom!
Dit is definitief ‘n groot voordeel in hierdie onseker tyd van Corona!! Ons is mos die Z-generasie wat grootword met tegnologie, so vir ons is hierdie sprong glad nie so groot nie!
Gedurende die grendeltyd het ons gewoond geraak om inligting, take en dokumente per WhatsApp te kry, maar met Google classroom is dit nou soveel makliker!
Elke leerder het ‘n e-pos adres waarmee jy inteken. Elke vak het ‘n kode en as jy ingeteken is, het jy toegang tot al die nodige inligting vir die spesifieke vak !! Elke donker wolk het ‘n goue randjie….. hierdie donker Corona wolk skep nou nuwe geleenthede en die ontwikkeling van aanlynskool is vinnig besig om ‘n holte vir sy voet te vind.”
Mnr. Magnus Buys, hokkiehoof van die skool is veral opgewonde en beïndruk deur die skool se inisiatief om ‘n nuwe en onbekende koers in te slaan. “Die G Suite vir Education strek baie wyer as net akademie. Die moontlikhede wat dit ons bied om ons sport na `n hoër vlak te neem deur middel van `n nuwe manier van ontleding en statistiek is legio. Die G Suite gaan dit vir afrigters aansienlik vergemaklik om videogrepe en analises van `n wedstryd met spelers te deel. Dit sal ook interaktief wees waar die spelers en afrigters met mekaar oor die grepe kan kommunikeer en denkwyses deel.”
Almira Cloete, Gr12 & Dux Kwartaal 1 – “Hoërskool Witteberg, verskuif grense deur gebruik te maak van Google Classroom.
Google Classroom is ‘n platform waar leerders huiswerk, opdragte en take van onderwysers kan ontvang asook klasse kan kyk en take kan inhandig! Hierdie nuwe manier bespaar baie tyd, is gerieflik en baie effektief! Ons kan teruggaan na vorige lesings en alle leer materiaal is beskikbaar voor eksamen! Ek geniet hierdie verandering omdat dit ń meer moderne manier van onderwys is, ek kan ten alle tye daarvan gebruik maak ongeag waar ek is. Google Classroom is belangrik vir die vooruitgang van Witteberg omdat skoolwerk op ń gerieflike en interessante wyse deur gegee kan word en ons as leerders gerus stel indien enige ontwrigting weer plaasvind, want Witteberg maak voorsiening!!”
Annelie Bredenkamp, Onderwyserres – “Binne die onsekerheid van hoe onderrig daagliks verander, bring aanlynonderrig groot rustigheid en sekuriteit aan al ons leerders, ouers en onderwysers!
Dit is nuut, maar dit is hier!”
Gustav Hauptfleisch, Gr.10 Dux “Google Classroom is een van die wêreld se vooruitstrewendste innovasies met Hoërskool Witteberg wat die voortou geneem het in Suider Afrika. My digitale klaskamer ondervinding het sover nog net positiewe ervarings in hierdie onbekende waters ontsluit. Ek sien uit om te sien watter aspekte van die fisiese klaskamer hierdie digitale pionier in ons kuberruim kan ontsluit.”