Leer kinders oor geldsake. Hoe leer ek my kind van geld? Dis ‘n vraag wat ek baie hoor. Van ouers, oupas en oumas. Dis moeilik om klinkklare antwoorde te bied – ek wens ek kon – maar ek deel graag ‘n paar gedagtes. Dink dan maar self verder hieroor – maar, leer kinders oor geldsake!
Dis regtig ‘n jammerte dat kinders op skool allerhande dinge geleer word, maar die twee belangrikste dinge in ‘n mens se lewe nie. Hoe om kinders groot te maak (ouerskap). En hoe om kinders te leer oor geldsake en verantwoordelik met geld te werk.
Ek fokus op die tweede een vandag.
Ek hoor so baie van volwassenes wat vir my sê, “as ek toe geweet het (van geldsake) wat ek vandag weet, sou ek…”. Klink dit bekend?
Jou kind is nooit te jonk om te leer nie. Nie van geld nie. Nie van die lewe nie. Dis net die vlak van die kommunikasie wat ouderdomsverwant is. Nie die boodskap self nie. Al is die insig nog nie daar nie, die manier van doen kan ingemessel word.
Kinders moet van vroeg af geleer word oor die geld. Oor die waarde van geld. Oor die belangrikheid van geld in die daaglikse lewe. ‘n Kind se vernaamste ontwikkeling is in die voorskoolse stadium van sy of haar lewe. Wat dan geleer word, gaan bly vassteek en die “resep” word vir alle uitdagings vorentoe – geld uitdagings ook.
Hoe doen jy dit?
Deur voorbeeld. Moenie sê nie, wys. Moenie voorskryf nie, doen. Kinders leer van grootmense deur hulle na te aap. Wat jy vandag doen gaan jou kind môre doen.
Op ‘n mode-fotograaf se blog lees ek onlangs oor haar loopbaanpad, onder meer oor haar verhouding met geld. Dit het begin toe sy maar vier jaar oud was. Wat sy onthou, skryf sy, is hoe haar pa en ma knaend baklei het. Oor geld. Of liewer, die gebrek daaraan.
Ek kry kinders jammer wat in sulke huise moet grootword. Maar wat my aangegryp het, was dat ons mode-fotograaf op agtjarige ouderdom reeds die insig gehad het om te besef hoe belangrik finansiële onafhanklikheid is. Dit is toe dat sy begin werkies doen het vir betaling. En begin spaar het.
Die res is haar storie. My storie vandag gaan oor hoe ons ons kinders kan leer om eendag finansieel onafhanklik te wees.
Kweek ‘n werketiek. Beloon hom of haar vir werkies gedoen. Maar weer eens, pasop dat dit sy lekker verloor. En daar is werkies wat gedoen moet word as deel van sy of haar bydrae tot die huishouding. Nie alles moet voor betaal word nie.
Vertel hom of haar van spaar
My kleinkinders word geleer dat jy óf die goed kan hê óf die geld. Dit leer verantwoordelikheid. Maar die kernboodskap moet wees dat geld, reg belê, meer word. Goed verloor waarde. Verder raak goed weg. Goed breek. En dan het jy nog die goed, nog die geld.
In hierdie dae waarin kontant eintlik outyds geraak het – alles werk mos met of deur ‘n kaart, is dit heelwat moeiliker om by die kind tuis te bring dat daardie kaart wat so “getrek” word nie betaal nie. Jy betaal. Daar is iets, geld, agter daardie kaart.
Terselfdertyd meen ek dit is belangrik dat spaar nie so ‘n groot kwessie raak dat dit die kind van sy kindwees ontneem nie. Kinders moet foute kan maak. So leer hulle. Ons maak almal foute.
Gee leiding. Moenie bestuur nie. Laat hy of sy verantwoordelikheid neem vir besluite. Maar pasop ook om ooglopend toe te laat dat die kind geldflaters maak net “sodat die kind sal leer”. So leer ‘n mens niks. Dit kweek net onsekerheid en uiteindelik ‘n lae selfbeeld, op sy eie ‘n voorloper tot finansiële ellende.
Praat. Verduidelik. Selfs tot jy moeg is. ‘n Kind wat verstaan, is tot baie meer in staat as een wat geboelie word en aan wie die heeltyd voorgeskryf word.
Dit help tog nie jy klou so vas aan geld dat jy jouself niks lekker in die lewe gun nie. Maar weet dit, dit gaan oor balans.
Pasop vir skuld
En pasop vir skuld. Dis ‘n seker pad na finansiële ellende. Help jou kind liewer deur hom of haar te laat wag tot daar genoeg geld is om iets te koop wat hulle graag wil hê. Dit is dissipline.
Met dissipline kan jy ver gaan. Selfs met min geld. Maar daarsonder help selfs baie geld jou nie.
Ongelukkig is die groot probleem dat te veel mense dink om ryk te lyk is belangrik. Glo my, die meeste van ons kan net óf ryk lyk óf ryk wees. Om ryk te wil lyk lei tot skuldmaak en armer word is die gevolg. Vermy dit.
As jy ‘n ouma of ‘n oupa is wat geldjies vir jou kleinkind wegsit, wys dit vir die kind. En wys die kind op die groei. Sê byvoorbeeld vir hom of haar “dit is vir jou studies” eendag. Jy begin die idee van spaar vestig as hy of sy die begrip “eendag” begin verstaan.
■ Deur Nico van Gijsen, ’n gesertifiseerde finansiële beplanner en belastingpraktisyn, is besturende direkteur van Finlac en ’n lid van Fisa. nico@finlac.com
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za