Emmari Gildenhuys is van Hoërskool Langenhoven in Riversdal. Sy het op 6 Mei aan dìe kompetisie vir potensiële akteurs deelgeneem. Sy was een van 60 tieners van regoor die land wat genooi is om aan die uitdunrondtes deel te neem.
Hierdie kompetisie word jaarliks gehou om talentvolle tieners die kans te gee om te wys wat in hulle steek. Dit word beoordeel deur bekendes uit die drama- en teaterwêreld soos Margit Meyer-Rödenbeck , Deon Lotz en Luan Jacobs.
Deelnemers het selfs hul eie kleedkamers oftewel “dressing rooms” en “backstage passes” gehad. Dit laat hulle toe om te sien wat werklik agter die skerms aangaan.
Die eerste rondte was op Vrydag, 6 Mei. Deelnemers moes ‘n monoloog van hulle eie keuse opvoer. Daarna het hulle ‘n rekwisiet ontvang. Daarmee moes hulle hul eie item optower.
Emmari het haar skitterend van haar taak gekwyt. Sy is ongelukkig nie deur na die volgende rondte nie. Sy en die ander deelnemers wat uitgeval het, is egter nie droëbek huistoe gestuur nie. Hulle kon op ‘n Rooibustoer deur die Kaap gaan. Hulle het onder andere ‘n bekende filmstudio besoek. Boonop het hulle ook verskeie werkswinkels bygewoon om hulle talente te verskerp.
Emmari het verseker die Dasse se naam hoog gehou. Sy het bewys dat Dasse-drama nog op en aan die gang is.
Dit laat mens wonder waarmee sy en die ander drama-Dasse volgende gaan opkom…
~Cara Serfontein~Kultuur
Meer oor Hoërskool Langenhoven:
Geskiedenis
In 1863 is die Jongensskool gestig. Die prinsipaal van die skool was mnr. T Chrisnell.
Daar het ‘n behoefte ontstaan aan ‘n skool vir dogters. In Augustus 1870 is Riversdal Girls’ High School gestig. Mnr. CJ Pauw het in 1912 skoolhoof van die Hoër Seunsskool geword. Die ou seunskoshuis en ook die huidige skoolkoshuis is na hom vernoem.
In 1935 is aanvaanklike idees vir die saamsmelt van hierdie twee skole gelug. Op 16 Mei 1940 is samesmelting uiteindelik by die onderwysdepartement aanbeveel. Die samesmelting kon egter eers in 1942 plaasvind. Die rede was dat die Tweede Wêreldoorlog nog in volle swang was.
Dr. LS McFarlane het in 1937 hoof van die Seunsskool geword het. Hy was ook die eerste hoof van nuutgestigde Hoërskool Langenhoven. Die skool is in die geboue van die Meisieskool gehuisves. Aanvanklik was daar te min klaskamers. Daarom moes die Graad 8-leerders na Laerskool Volschenk verskuif word. Daar is eers in 1956 met bouwerk aan die nuwe skoolgebou begin.
Op 29 Maart 1957 is Hoërskool Langenhoven se nuwe geboue amptelik in gebruik geneem. Dit het baie oorreding gekos voordat die onderwysowerhede ingestem het tot die bou van ‘n skoolsaal. Uiteindelik is toestemming vir die bou van die skoolsaal verkry. Die R.E. le Roux Saal is in 1958 ingewy. Daarna is begin om die vlei voor die skool in sportvelde te omskep. Die sportterrein is op die naweek van 13-14 Augustus amptelik in gebruik geneem.
Die bou van die nuwe seunskoshuis het onder leiding van mnr. Calitz, skoolhoof van 1963 tot 1970, gestalte gekry. ‘n Paar jaar later is die Juan Schoombie Mediasentrum (Biblioteek), vernoem na die skoolhoof van 1976 tot 1985, ingewy.
https://schoolsthatrock.co.za/category/western-cape/western-cape-schools/knysna/