Covid 19 het baie van Laerskool Menlopark se graad 7 leerders van die kans ontneem om hul laerskool loopbane af te sluit op ‘n hoogtepunt met hul gunsteling kultuuraktiwiteit, akademieseuitdaging of sportsoort. Superbokkie gesels in ‘n reeks met van ons graad 7 leerders hieroor. Vandag gesels hy met Zanje Bodenstein en Christian Gous, twee lede van Menlo se Tjokkertoneelgeselskap.
Superbokkie: Vertel ons hoe is dit om deel te neem aan Tjokkertoneel by Menlo.
Zanje: Om deel te wees van die Tjokkertoneel is eerlikwaar ‘n groot voorreg. Dit is so lekker om die geleentheid te hê om jou talente te ontwikkel. Dis nie sommer enige skool wat besef hoe belangrik die kunste is nie.
Christian: Vir my was Tjokkertoneel ‘n heerlike ervaring en veral die ontdekking dat ek myself kan uitleef op die verhoog.
Superbokkie: Hoe lank neem jy al deel aan Tjokkertoneel?
Christian: Die ATKV het in 2019 die eerste keer Tjokkertoneel aangebied. Ons was dus van die eerste groep wat dit kon meemaak.
Zanje: Wat Christian sê is waar. Ek hoop die leerders wat die voorreg het om in Menlo te wees sal dit in die toekoms net so baie geniet soos ek het.
Superbokkie: Wat wou julle as toneelgeselskap bereik die jaar?
Zanje: Toe ek van die Tjokkertoneel gehoor het, het ek geweet saam met ander drama-queens en kings gaan ek myself gate uit geniet. Maar toe ons eers in die ‘ding’ is, wou ons die skool se naam hoog hou! En natuurlik in die top drie eindig. Hierdie jaar wou ons dit weer doen.
Christian: Ons het hierdie jaar baie planne gehad en Menlo het drie toneelstukke in die pyplyn gehad. Ons wou beslis Tjokkertoneel stormloop!
Superbokkie: Het jy enige persoonlike doelwitte gehad in terme van drama of toneelspel die jaar?
Zanje: Eerstens is ek dankbaar vir ‘n goeie drama afrigter en vir die unieke en talentvolle leerders wat saam met my in ’n fantasiewêreld kon speel. Ek wou regtig net myself geniet, en my karakter uitleef op die verhoog. Ek wou ook meer leer oor toneelspel en myself bewys.
Christian: Ek stem saam met Zanje. Lara Lourens wat ons afgerig het, het een en elkeen van ons se talente ontwikkel. Ek wou hierdie jaar op die verhoogwêreld konsentreer en net meer en meer leer. Tjokkertoneel het die deur vir my oopgesluit om die wêreld van films te beleef, maar die verhoog was my 2020 hooffokus.
Superbokkie: Wat is jou beste herinneringe aan Tjokkertoneel deur jou laerskool loopbaan?
Zanje: Sjoe! Alles was hoogtepunte. Van ‘’hou julle duime vas!” en die onderlangse giggels as ons ons woorde vergeet, die pret, die stres, die ongelooflike gevoel as die gehoor lag en fluit en hande klap tot die baie ure se oefen, oefen en oefen. Lara, ons regisseur, wat haar hande vol gehad het…..en veral die eetbare ‘props’ wat opgeëet is nog voordat die gordyne oopmaak het. Die herinnering aan die gevoel dat jy ‘behoort’ en deel is van iets wat belangrik is.
Christian: Dit is die samehorigheid en pret saam wat ons gebind het as ‘n span wat die lekkerste herinneringe vorm. Tjokkertoneel gee jou ‘n unieke verhoogervaring – van klank, beligting, stel- en -kostuums tot die leer van reageer op jou medespelers se spel. Ons was een van die min skole waar alles tegnies ook deur leerlinge behartig is.
Superbokkie: Aan watter ander buitemuurse aktiwiteite neem jy deel by Menlo? En buite die skool?
Christian: Voor COVID het ek gesing in die Seniorkoor, en was deel van die Algemene Kennis span. Ek is van graad 1 af in die Voortrekkers. Ek het ook krieket gespeel vir Menlo. Buitemuurs neem ek aan Judo deel en my drama en toneel huis is by PALI. Ek teken en skilder graag en het gereeld deelgeneem aan die Noord Gauteng Ekspo se afdeling vir Wetenskap in Kuns.
Zanje: Ek het altyd netbal gespeel maar ek is nie super sportief nie. Ek het elke jaar deelgeneem aan English Speech Festival en Menlo –Het- Talent. Buite die skool doen ek perdry, dans, kuns en sang. Ek het ook by PALI aangesluit wat drama afrigting is vir toneel, T.V, en verhoog.
Superbokkie: Wat maak dit spesiaal om deel te wees van Tjokkertoneel by Menlo?
Christian: Menlo het in 2019 ‘n groot kans gevat en baie vertroue in ons geplaas met die Tjokkertoneel. Dit was baie spesiaal om ‘n landwye derdeplek vir ons skool te verower, sommer so met die eerste probeerslag. Dit was lekker om te weet dat die hele skool trots is op ons poging en soveel ondersteuning gegee het.
Zanje: Menlo het ‘n goeie naam, dit is alreeds spesiaal. Nie almal het presies dieselfde talente en gawes van God af gekry nie. Dit is baie spesiaal dat Menlo deel was van iets buite akademie en sport. Dis heerlik dat daar ‘n platform was waar ek ook my talent kon uitleef.
Superbokkie: Hoekom sal jy Menlo as laerskool aanbeveel vir voornemende leerders? En Tjokkertoneel as aktiwiteit?
Zanje: Omdat Menlo vir elke unieke leerder ‘n binne- en buitemuurse aktiwiteit aanbied. Die sport is baie goed, die akademie ook. Daar is iets vir almal. En dan natuurlik die kultuur is fantasies. En dan, dan is daar Tjokkertoneel!! Iets vir almal, selfs vir my!
Christian: Almal noem altyd hoe goed Menlo se akademie en sport is. Menlo se kultuur is ook tops, maar die kern is dat Menlo se onderwysers omgee vir elke kind en soveel geleenthede skep. Ek het nog nooit drama of toneel gedoen voor Tjokkertoneel nie en dit was ‘n wonderlike ontdekking om deel te wees van hierdie produksie. Dit ontwikkel nie net jou toneelspeel vermoëns nie maar ook jou as mens. Daar is geen beter “selfvertroue skepper” as toneelspel en drama nie.
Superbokkie: Na watter hoërskool beplan jy om in 2021 te gaan en beplan jy om daar ook deel te neem aan drama of Tienertoneel – Tjokkertoneel se “grootboetie/sussie”?
Zanje: Ek is baie bevoorreg om na Duo Edu Senior Onafhanklike Skool toe te gaan waar ek my drama-talent sal kan uitleef saam met kinders wat ook uit die boks dink. Tydens my toelatingsonderhoud by die skool het ons hulle van Tienertoneel vertel en die goeie nuus is dat Duo Edu vanaf 2021 moontlik ook daaraan gaan deelneem! Ek sien baie daarna uit om as tiener op die verhoog te wees!
Christian: Ek gaan na die Afrikaanse Hoër Seunskool – Affies! ‘n Deel van my keuse was juis omdat Affies elke jaar deelneem en goed doen met Tienertoneel en ek kan nie wag om self deel daarvan te wees nie.