Krieket kapteins. Schools That Rock gesels, in hul reeks oor skole se krieket kapteins, oor die volgende aantal weke met verskeie skole in Suid-Afrika se 1ste span Krieket-kapteins. Ons agtste bal word geboul na Ignus de Wet, kaptein van Hoërskool Trio van Kroonstad se 1ste krieketspan.
“Ek het op die ouderdom van agt jaar begin krieket speel. Ek het altyd krieket gekyk op televisie. Dit het vir my baie lekker gelyk om die bal rond te slaan en dit is waarom ek vroeg reeds begin krieket kyk het. Die verskillende style van krieket interesseer my baie. Ek kyk nog steeds krieket op televisie. Ek hou veral daarvan om na toetskrieket te kyk. Met my eerste krieketwedstryd was ek baie senuweeagtig omdat ek nie geweet het wat om alles tydens die wedstryd te verwag nie.
Aan die begin het ek maar gesukkel met kolf en boul. Dit het aanvanklik veroorsaak dat ek nie van die sport gehou het nie. Gelukkig het dinge later verbeter en tydens my hoërskoolloopbaan, in graad 10, is ek die eerste keer tot krieket-kaptein verkies.
Ek beskou my grootste taak as kaptein om dit vir die manne op die veld duidelik te maak wat hulle moet doen. Op die veld moet ek ook deur my voorbeeld lei. Ons eerste span oefen drie keer per week vir een uur per dag.
Fasette van krieket
Myns insiens moet ‘n goeie krieket speler ten minste in twee fasette van die spel krieket, goed wees – kolf, boul of veldwerk. My sleutel tot sukses op die krieketveld is om op my eie spel te fokus. Ek laat nie dat ander se foute my besluite beïnvloed nie. Ek glo ook daarin om die hele tyd op die veld ‘lewendig’ te bly en baie te praat.
Wat my inspireer elke keer wanneer ek as krieket-kaptein op die veld stap, is om ons honderd persent wen-rekord lewendig te hou vir die hele seisoen! Ek probeer ook my bes om deurentyd goed te presteer en my posisie as kaptein en my plek in die span te te verdien.
My grootste krieketheld is Quintin de Kock. Sy spel beïndruk my net meer en meer. Ek beskou myself nie as ‘n bouler of ‘n paaltjiewagter nie, so verkies om te kolf.
My lekkerste wedstryd was in 2020 toe ons teen Grey Kollege in ‘n T-20 wedstryd kon speel. Dit was een van my grootste ervaringe om teen een van die beste skole in Suid-Afrika te speel! My kolfbeurt wat my altyd sal bybly, was tydens ‘n wedstryd in die laerskool. Dit was ‘n witbal wedstryd en ek het my eerste vyftigtal geslaan!
Druk-hantering
Hoe hanteer ek druk op en van die veld? Ek gaan na my afrigters vir hulp en ek probeer ook om nie konsentrasie te verloor nie. My raad aan beginners is: hou aan oefen. Probeer om elke dag meer balle te slaan en hoe harder jy werk, hoe beter sal jy word. Wanneer ek ‘n moeilike wedstryd agter die rug het, gesels ek daaroor met my pa en my afrigters.
Die “nar” in ons span is Louis Boshoff. Hy is verseker ‘n nar! Terselfdertyd is dit Louis wat my elke keer die meeste verras. Hy het die vermoë om die bal baie hard te slaan en van die eerste bal af kry hy, meeste van die tyd, lopies.
Die bouler vir wie ek die meeste vrees het, is Muvulu Chabalala van St Dominics. Hy boul met ‘n goeie spoed!
Ons span het wel ‘n “pre-match” ritueel. Ons bid elke keer voordat ons op die veld gaan en die skeidregters en kaptein gaan altyd eerste op die veld.
In my vrye tyd hou ek daarvan om saam met my meisie en vriende tyd te spandeer.
Indien ek myself in een woord moet beskryf, is dit doelgerig.”
Foto’s verskaf
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za