Kombersprojek 2022. Na groot afwagting die afgelope 2 maande, is die kombersprojek 2022 suksesvol afgehandel. ʼn Totaal van 828 komberse is vir die winterkoue ingesamel.
Me. Sumaré Pieterse, AKTKV-jeugtak bestuurder, het dit haar missie gemaak om soveel as moontlik komberse in te samel vir hierdie fantastiese liefdadigheidsprojek. Die projek gaan soveel meer daaroor as om net die meeste komberse in te samel. Elke kombers wat ingesamel word, word geskenk aan lede van die gemeenskap wat behoeftig is. Daar is alreeds ʼn paar van die komberse geskenk aan die DBV en sommige kerke, waar behoeftige mense geïdentifiseer is.
Me. Pieterse het die gemeenskapsprojek wat geloots word by Hoërskool Witteberg, naamlik Mnr en Mej Witteberg, se finaliste gebruik om ʼn minimum van 10 komberse in te samel. Dit is ook groot blydskap om te sien dat die leerders van Witteberg ook hul harte oopgemaak het. Hulle het ingespring om soveel moontlik komberse in te samel vir dié wat dit hierdie winter benodig.
Die leerders kon óf ʼn kombers of R30 bring om ʼn bydrae tot die projek te maak. Met die R30 wat ingesamel is, is daar lap aangekoop waarvan Mev. Alda van der Merwe die komberse gemaak het. ʼn Groot dankie aan haar vir die goeie daad!
Hoërskool Witteberg se harte is vol met die wete dat hulle kon bydra tot hierdie wonderlike inisiatief.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf