‘Koekies-bak’ by Hoërskool Cradock leer vaardighede en bou selfvertroue:  Verbruikerstudie word dikwels na verwys as ‘n ‘koekie-bak’ vak.  Hier by Hoërskool Cradock word hierdie vak egter gesien as een waar leerders nie nét bak en brou nie, maar waar daar ook gebou word aan leerders se selfvertroue en vaardighede.

Verbruikerstudie gee aan leerders kennis, asook vaardighede, wat vir die res van hul lewens toegepas kan word.  Leerders leer selfdissipline en die vermoë om situasies te ontleed en krities oor verbruikerskwessies te dink.  Terselfdertyd dien hierdie vak as ‘n kreatiewe uitlaatklep en word daar ook toegevoeg tot leerders se eiewaarde en selfbeeld; iets wat vir elke persoon belangrik is.

Onderwerpe soos voedsel en voeding, kleding, behuising en entrepreneurskap word alles behandel as deel van die Verbruikerstudie kurrikulum.  Die kennis en vaardighede wat leerders in hierdie klas opdoen help hulle om hulpbronne beter te bestuur en volhoubare besluite te neem.  Vir sommige leerders is hierdie klas ‘n openbaring van die moontlikheid om hul eie besigheid te begin.

Vir baie leerders gaan verbruikerstudie egter oor die praktiese komponent.  Hier kan leerders hul kreatiwiteit uitleef en ‘n eie stempel op hul produkte afdruk.  Tydens die praktiese lesse word daar speel-speel geleer en kry leerders die geleentheid om trots te voel oor produkte wat hul sélf vervaardig het.  Leerders kan met trots by ouers of maats daarmee gaan spog.

Vra maar vir enige Verbruikerstudieleerder wat die hoogtepunt van hul skoolweek is en hulle sal vinnig antwoord dat dit die verbruikerstudie-prakties is.  Afgesien van die Verbruikerstudieleerders baat die res van die skool ook by hierdie weeklikse praktiese-periodes, deurdat almal bederf word met die lip-lek-lekker reuke vanuit die Verbruikerstudieklas.  Hierdie heerlike reuke en geure beklemtoom die realiteit dat die meeste leerders (en selfs personeel) baie daarvan sou hou om elke dag ‘koekies te bak’!

Op die foto heel bo:   v.l.n.r.:  Anthony Goosen, Ukuhle Kuze

KOEKIES BAK 2

Foto bo:   v.l.n..r:  Somila Madolo, Mihlali Shembele

KOEKIES BAK 3

Foto bo:  Beatrice van Wyk

Become a Sponsor