KFC PUNT KRIEKETFEES: SANGGROEP
“Ek het die groep leerders gevra om die afrigters en gaste met die musiekale klanke van Hoërskool Punt se talentvolle leerders welkom te heet . Die Fees is ‘n platform om alle talent bloot te stel. Die groepe leerders word begelei deur Mnr.L Van Niekerk wat ook die liedjies wat die groep sal sing, gekies het.” Me. N.Schoeman (personeellid)
Amor Coetzee (foto heel bo) skryf:
“Ek is 17 jaar oud en kan, van ek onthou, nie ophou musiek luister nie. Ek het amper my hele laerskool loopbaan koor gesing en nog steeds nie geweet ek is so mal oor sing nie.
Ek het eers in hoërskool besef hoe baie ek van sing hou en dat ek actually kan sing. Musiek is iets wat ek vir niks in die wêreld sal ruil nie, ek kan nie sonder musiek lewe nie. Ek speel ukulele om meer daai acoustic vibe te kry.”
Eileen Swanepoel skryf:
“Musiek speel nog altyd ‘n baie groot rol in my familie. Ek het van kleins af begin klavier speel en koor sing net soos my ma en ouer suster, maar soos die jare verby gegaan het, het ek agtergekom dat klavier nie my passie is nie. Nadat ek my graad 3 klavier eksamen geskryf en gespeel het, het ek vir 2 maande kitaar lesse geneem net om die basies akkoorde te kan druk en daarna het ek myself geleer speel. Ons het toe van ‘n klein dropie in die Noord-Kaap getrek na Mosselbaai toe en hier het ek musiek as vak in graad 8 en 9 geneem. Vandag is ek in Hoërskool Punt se orkes en koor asook in my kerk se ‘band’ en ek geniet elke oomblik daarvan”.
Wian Hough skryf:
“Ek het musiek begin speel toe ek 2 jaar oud geword het. Die dag toe ek verjaar het, het my ma vir my ‘n dromstel laat leen vir die dag. Sy kon my nie van die dromme afkry om partytjie te hou nie, dis waar my passie vir dromme begin het. Tot vandag toe geniet ek elke oomblik”.
Mnr. Van Niekerk skryf:
“Ek is tans ‘n wiskunde onnie met ‘n liefde vir note. Ek glo musiek is ‘n uitbeelding van ons as mens se emosies en dit woeker in die binnekamers van ons hart. Ek het as student te CPUT my liefde vir musiek ontdek en stoei graag met snaar en klawer. J.R.R Tolkien sê: “ Not all who wander are lost”, maar daar is niks so wonderlik soos om jouself in towerklanke te verloor nie.”