Tydens die naweek van 20 – 21 Mei 2017 is die Kaapstadse uitdunne van die World Scholar’s Cup deur vier aanbieders van Amerika, Switserland, China en Suid-Afrika by DF aangebied. 250 leerders van 12 skole het aan hierdie interaktiewe skryfwerk-, vasvra- en debatskompetisie deelgeneem. Die ervaring was vir die deelnemers uiters alternatief – dit is nie elke dag dat spannende debatte en loslit-dans tussen die stoele in die saal hand-aan-hand gaan nie …
DF se segetog het die volgende trofeewenners ingesluit:
Individueel: Bernard Oosthuizen (4de); Gerhard Erasmus (2de) en Karen Vergeest (1ste);
Algemene Kennis: Juané Cronjé, Damian Petersen en Dene Cremen (2de);
Spankompetisie: Wouter Willemse, Ben Wiese en Karl Voigt (4de); Juané Cronjé, Damian Petersen en Dene Cremen (2de); Gehard Erasmus, Michael Groenewald en Bernard Oosthuizen (1ste).
Daar het 8 spanne van DF gekwalifiseer om aan een van die die wêreldwye kompetisies, wat in Griekeland, Viëtnam en – vir die eerste keer ooit – Kaapstad, aangebied word, deel te neem.
Dit was voorwaar ‘n geleentheid wat nie gou vergeet sal word nie!
World Scholar’s Cup
Die organiseerders van World Scholar’s Cup, ‘n internasionale akademiese program waaraan daar jaarliks duisende leerders uit vyf kontinente en meer as vyftig lande deelneem, het vanjaar vir die eerste keer ook ‘n streeksronde in die Kaap aangebied. Hoërskool DF Malan in Bellville het by hierdie unieke geleentheid as gasheerskool opgetree.
Die WSC is tien jaar gelede deur Daniel Berdichevsky gestig en die organisasie het sy hoofkantoor in Los Angeles, Kalifornië. Die fokus van hierdie inisiatief is om toekomstige leiers uit verskillende kulture wêreldwyd bymekaar te bring. Met die 2017-tema, An Unlikely World, het ‘n groot groep leerders van onder andere Bergvliet, Brackenfell, DF Malan, Edgemead, Kirstenhof, Mfuleni, Somerset College, Somerset House, SACS, Sweet Valley, Tygerberg en Oude Molen, vir twee dae lank op ‘n baie kreatiewe wyse geredeneer, gekompeteer en interessante idees uitgeruil.
Die deelnemers kon in vier verskillende kategorieë om die gesogte medaljes en trofeë meeding. Een van die hoogtepunte was egter toe elke deelnemer met ‘n alpakka – die gelukbringer van die WSC – kon huis toe gaan!
Die eindronde van die World Scholar’s Cup vind vanjaar in die drie wêreldstede, Hanoi, Athene en Kaapstad, plaas.
Become a Sponsor