Anika Marais, tennisspeler van Hoërskool Cradock, het die afgelope skoolvakansie deelgeneem aan die Interpro Tennistoernooi te Graaff-Reinet. Anika het deelgeneem as deel van die o/18 OP-span waar sy die tweede posisie op die spanranglys beklee het.
Anika meet kragte teen die nommer een en twee spelers van die Noord-Kaapspan en wen albei haar wedstryde oortuigend. Die OP-span word ook as wenners van die toernooi gekroon.
Beide Anika sowel as Ryan Gowar, graad 11-leerder aan CHS, neem ook deel aan die Graaff-Reinet Mini Toernooi waar beide heirdie spelers pragtige uitslae gelewer het. Anika neem deel in die Ope-afdeling vir vroue en wen hierdie afdeling met pragtige tennis. Ryan eindig in die algehele negende posisie in die Ope-afdeling vir mans. In die dubbelsafdeling speel Ryan egter uitkloptennis om as wenner in hierdie kategorie aangewys te word.
‘n Derde leerder van CHS, Daniel Tam, het die SA Skolespan gedurende Julie vergesel na Londen. Na afloop van ‘n spanseremonie op 28 Junie, waartydens die spelers hul spanklere ontvang het van SA Tennis se hoof uitvoerrende beampte, Richard Glover, het die span vertrek na Londen waar hulle kragte gemeet het teen twee top Engelse klubs, naamlik Millfield College en Lawn Tennis Association. Die span ervaar gemengde uitslae in hul wedstryde wat onderskeidelik op gras- en kleibane gespeel was.
Een van die hoogtepunte van hierdie toer was die geleentheid om een van die wêreld se top tennistoernooie eerstehands te ervaar. Tussendeur oefeninge en wesdtryde was die SA-span bevoorreg genoeg om twee Wimbeldon wedstryde by te woon.
Hoërskool Cradock is bederf met jong, talentvolle opkomende tennissterre. Met leerders wat puik afrigting en goeie blootstelling ontvang sowel as talle geleenthede om ervaring op te doen teen van die land en wêreld se bestes kan dit nie anders as om te groei van krag tot krag. CHS is baie trots op hierdie begaafde spelers en hul pragtige prestasies.
Become a Sponsor