)

Jan Fourie – Hoërskool Fichardtpark vereer oud-skoolhoof se nagedagtenis

Jan Fourie. Dit is met groot hartseer dat die Fichie-gemeenskap van die afsterwe van meneer Jan Fourie verneem. Mnr. Fourie was vanaf 1985 tot 1996 die skoolhoof van Hoërskool Fichardtpark. Dit was vir hom ’n voorreg om ’n nuwe skool te vestig.

Mnr. Lubbe is gedurende 1984 as tydelike skoolhoof aangestel en in Januarie 1985 begin mnr. Jan Fourie se ampstermyn as die eerste permanente skoolhoof van Hoërskool Fichardtpark. Hierdie taak sou hy vir die volgende twaalf jaar met groot sukses uitvoer.

Begin in 1985 met 205 leerders

Mnr. Fourie begin in 1985 met 205 leerders in die skool: standerds 6, 7 en 8 (soos dit voorheen bekendgestaan het). Sy insette was onontbeerlik in die vestiging van ’n nuwe skool. Ouers en leerders is ook deurlopend by die proses betrek. Hy was van die staanspoor af die dryfkrag agter die simbole en leuses wat elke Fichie se hart steeds blou laat klop. Ons skoolwees is in meer as een opsig te danke aan hom: die kleur van die skooluniform, ons skoolwapen met die klimmende leeu en opkomende son, ons skool se leuse van Glo, Werk en Dien, die skoollied en nog vele meer. Met sý geloof, harde werk en diensbaarheid het hy die grondslag van die waardesisteem wat elke Fichie nastreef, gelê.

Mnr. Fourie het in die krag van ouers se ondersteuning geglo. Onder andere, moes die sportgronde ontwikkel word: gras is deur leerders van die skool aangeplant; rugbypale is met die hulp van ouers opgerig en daar is vir water geboor. Hy het motorkompetisies geloods en die wins daarvan het vir die bou van die tennis- en netbalbane gesorg. Die eerste voertuie van Hoërskool Fichardtpark is ook tydens sy termyn aangekoop. Verskeie akademiese prestasies is ook gedurende sy termyn behaal. In 1987 het die skool sy eerste matriekklas gehad – al 36 matriekleerders het geslaag – daar was 12 onderskeidings.

Ontwikkeling

Mnr. Fourie het meeste van sy tyd aan die ontwikkeling van Hoërskool Fichardtpark spandeer. Hy was ure na die skool verdaag het steeds in sy kantoor – besig om te beplan. By skoolfunksies kon jy seker wees dat mnr. Fourie ’n draai by almal sal maak om ’n vinnige geselsie aan te knoop. Mnr Fourie het ’n omgee-hart gehad en het nooit geskroom om met ’n helpende hand na behoeftige ouers en leerders uit te reik nie.

Jy kon daarop reken dat mnr. Jan Fourie met sy wit hoed by sport- en kultuurgeleenthede teenwoordig sal wees. Hy was ’n streng, maar regverdige skoolhoof. Mnr Fourie het ook geweet waar sy krag vandaan kom en het deurentyd sy christelike beginsels gehandhaaf.

Stories uit sy verlede

Hy het ’n unieke manier gehad om met kinders te werk. Op sy verjaarsdag het hy die skoolkinders vir ure met stories uit sy verlede vermaak. Elkeen van hierdie stories het ‘n dieper betekenis gehad, ’n les wat die kinders kon saamneem. Mnr. Fourie was lief vir die buitelewe en ook vir tuinmaak. Hy het baie roosbome by die skool laat aanplant en hy het jaarliks self al hierdie bome gesnoei.

Met sy vertrek aan die einde van 1996, het hy ’n volwaardige skool agtergelaat. Dit is voorwaar ’n nalatenskap waarop hy, sy familie en die Departement van Onderwys trots kan wees.

Mnr. Fourie, die gemeenskap van Hoërskool Fichardtpark bring met trots hulde aan u nagedagtenis.        

Meer nuus: https://schoolsthatrock.co.za https://fpark.co.za

Become a Sponsor
  • Related Posts

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    KZN Marlins Basketball. Lamia Amod Joins the KZN Marlins! St John’s D.S.G. is thrilled to celebrate Lamia Amod, whose exceptional talent and determination have earned her a coveted place in…

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Gedagte vir die Week – Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. Psalms 16: 5-7 Thought of the Week –…

    Leave a Reply

    You Missed

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    KZN Marlins Basketball – St John’s D.S.G. outstanding

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Gedagte vir die Week – Thought of the Week

    Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

    Teemane Karateklub Winter Challenge – Hoërskool Kalahari

    EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

    EP U18 youth rugby – Pearson High School outstanding

    Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

    Sharks U18B Team Selection – St Charles College delighted

    Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal

    Vrystaat Provinsiale Danskampioenskap – Hoërskool Sentraal