Hoofseun 2025. Hoofseun 2025. Die afgelope aantal jare het Schools That Rock onderhoude gepubliseer van Hoofleiers afkomstig van verskeie hoërskole in Suid-Afrika. Hierdie jaar maak ons weer so en vandag gesels ons met TJ du Plessis, Hoofseun 2025 van Hoërskool Bredasdorp
“Ek sien uit na die geleenthede om te groei as ‘n leier gedurende my leierskap jaar. Ek sien ook uit daarna om saam met my span te groei en ons volle potentiaal te bereik.
My persoonlike doelwit hierdie jaar is om die beste moontlike leier vir my skool te wees. Ek wil ook besonderse rugby speel.
Die eienskappe van Hoërskool Bredasdorp wat vir my die meeste uitstaan, is die skool se leerders wat baie betrokke is en altyd gretig om deel te neem aan skool-aktiwiteite. Ons skool het ‘n groot gees van gemeenskap onder mekaar, en staan saam teen probleme.
Veranderinge wat ek graag wil sien gebeur by ons skool, is lewendige, energieke klaskamers. Ek wil graag klasse met kleur hê.
Hoërskool Bredasdorp is op die huidige oomblik die nommer een akademiese hoërskool in die Overberg. Ons vaar ook goed op die sportveld en lewe vir sportdae wat nie gemis kan word nie. Daarom sal ek iemand oorreed om Hoërskool Bredasdorp hul skool van keuse te maak.
Sterkste leiers-eienskap
My sterkste leiers-eienskap is my baie goeie kommunikasie- en mens-vaardighede.
Ek glo samewerking begin by wedersydse respek vir mekaar. As almal hierdie doel, titel en mekaar respekteer, gebeur samewerking vanself.
Die persoon na wie ek die meeste opsien is Meneer Pierre-Ettiene Rossouw. Hy is ‘n rolmodel vir alle jong seuns in die skool. Sy waardes en kwaliteite staan uit en ek strewe om sy waardes te handhaaf.
Ek dagdroom meestal oor dinge wat sport aanbetref soos vorige rugby wedstryde en sportgeleenthede. Ek dagdroom ook oor die toekoms, oor hoe my lewe dalk mag lyk na skool, of hoe ek hoop dit gaan lyk.
My gunsteling gereg? Ek is absoluut verlief op my ma se kerrie. Die perfekte hoeveelheid warmte en liefde.
My vriende sê, indien ek ‘n kombuis-artikel moes wees, ek ‘n houtlepel sou wees, want ek weet hoe om dissipline te hanteer en kan streng wees op tye wat ek moet wees.
Wat my toekomstige loopbaan betref – ek wil graag agrikultuur gaan studeer by Boland College vir 3 jaar. Ek het ‘n passie vir die plaaslewe en wat dit alles aanbetref. Boerdery is in my bloed.”
Lees meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za/
Foto verskaf
Become a Sponsor








