Hoofseun 2024. In ons reeks oor Hoofseun 2024, gesels ons vandag ook met die Hoofseun 2024 van van Hoërskool Strand in Kaapstad.
Franko, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskapervaring?
- Ek sal sê dat ek die persoon in ‘n kamer is wat nie sal kan stilbly as ek weet dat my woorde en dade iemand anders kan help of die groep as geheel kan verbeter nie. In my ervaring was dit die oorsprong van elke goeie besluit wat ek al geneem het in ‘n leierskapsposisie. Ek was nog nie een keer spyt dat ek so iets gedoen het nie al maak ek foute, want die moontlikheid om goed te doen oorskry altyd die risiko om ‘n fout te maak in my oë.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Om mee te begin, is respek natuurlik die waarde wat die gereeldste toegepas kan word. Vir my vorm dit die basis van een van die belangrikste aspekte van leierskap. Dit is die sosiale aspek, want ‘n leier is net ‘n leier as hy volgelinge het. Hardwerkendheid is ‘n top waarde. Dit nie net belangrik om ‘n voorbeeld te wees en sigbaar hardwerkend te wees nie. Dit is ook om juis daardie werk te doen waarvan min mense eintlik weet. Laastens staan diensbaarheid vir my uit bo alles. Dit is die besluit wat jy elke dag as leier neem: die keuse om te dien. Om ander se behoeftes voor jou eie te stel, want die lewe gaan nie oor wat jy kry nie, maar wat jy gee.
Vertel ons van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Strand.
- Persoonlik wil ek meer doen. Ek wil meer doen vir my gesin, my vriende, vir my skool en vir my geloof. Ek dink die standaarde vir my generasie is nog hoër as ooit tevore. Dit is omdat ons jaar na jaar besef hoe baie ons het om te bied. Ek dink ons onderskat onsself. Uitmuntendheid kan net bestaan as ons dit self kies en nie gedwing word om dit te doen nie. Daarom doen ek hierdie jaar my bes om aktiewe besluite te neem om nog meer en nog beter te doen as wat ek dink ek kan. Daarna kan ek tevrede te wees met my beste, want sukses is relatief. Wat my skool betref, vertrou ek dat ons elke dag sal besef hoe geseënd ons is om in die Arend-familie te wees. Ons moet hierdie jaar streef om nog beter as die vorige jaar te doen.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- My sterkste eienskap is definitief die feit dat ek nie bang is om myself te wees nie. Ek is grootgemaak om selfversekerd te wees. Genoeg om nie arrogant te wees nie en min genoeg om nederig te bly. Ek dink dit kan ‘n mens ver in die lewe bring.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Ek probeer altyd om ‘n postitiewe en opbouende verhouding met my leierspan te behou. Dit skep vertroue met elke lid wat van waarde is wanneer ek hulle hulp benodig. Vir iemand om heeltemal in te koop op iets is dit ‘n natuurlike instink om duidelik te wil sien dat dit die moeite werd is. As gevolg van die vertroue wat my span in my het, sal hulle my volg ongeag van die omstandighede.
Franko, as jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- Ek sou sonder twyfel ‘n Great Dane wil wees omdat die eerste indruk van hulle vreesaanjaend kan wees. Maar as jy hulle leer ken is die meeste van hulle eintlik saggeaard en liefdevol.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek sal baie steun op hulle vertroue in my en die wete dat ons die beste van ons omstandighede moet maak. As Hoofseun 2024 het ek geleer dat dit belangrik is om hulle aan te moedig en om dankie te sê. Woorde dra baie krag en dit is belangrik dat ‘n span ‘n gesonde belans van opbouende kritiek en komplimente en bemoediging van hul leier ontvang.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Strand?
- Die personeel by Hoërskool Strand. Hulle het al so ‘n groot verskil in my lewe gemaak. Hulle groet ‘n mens elke dag met ‘n lus om te leer en hulle het al meer moeite vir ons as leerders gedoen as wat baie ander mense sal. Hulle is ‘n groot rede hoekom ek trots op my skool is.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Ek kyk baie op na my suster, Charlene. Ten spyte van baie moeilike omstandighede is sy vandag ‘n beter mens met ‘n sprankelende, snaakse en liefdevolle persoonlikheid. Sy inspireer my om beter te wees, om harder te werk en om altyd myself te wees.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Ek dink baie leiers sal met my saamstem as ek sê dat dit die oomblik was toe ek tot hoofseun verkies is. Alles wat ek tot daardie punt gedoen het het dit moontlik gemaak om die voorreg en eer te kan ontvang. Op die dag van ons inhuldiging het ek seker elke vyf sekondes gebid en toe ek die aand by die skool instap, het ek ‘n onverwagse kalmte gevoel wat deur my liggaam vloei. Toe ons op die verhoog was en die aankondiging gemaak is, was dit een van die gelukkigste oomblikke wat ek al beleef het. My familie was almal daar om die oomblik saam met my te geniet. Dit was ongelooflik.
Franko, waaroor dagdroom jy?
- Dit sal definitief oor een of ander dans of liedjie wees wat ek in die musiekblyspel doen waarin ek is by ons plaaslike teater optree. Dit sal in my kop vassit en oor en oor in my gedagtes afspeel sonder dat ek dit agterkom. Dit is natuurlik goeie liedjies, so dit is die moeite werd om daaroor te dagdroom.
Hoe sal jy Graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
- Eerstens sal ek hulle aanmoedig om die Opedag by te woon. Dit is een middag wat jy alles wat ‘n skool aanbied met jou eie oë kan sien. Daarna sal ek ‘n paar van die beste goed noem wat ek dink hulle van sal hou soos ons uitruilprogram na België, die sporttoernooie wat ons aanbied en ons nuwe gimnasium. Dit gee hulle ‘n voorsmakie van wat Hoërskool Strand alles aanbied.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Ek is nog onseker daaroor, soos die meeste matrieks in hierdie stadium. Sover is my plan om BSc in Biologie by die Universiteit Stellenosch te gaan studeer.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Ek dink hulle sal my beskryf as iemand wat baie omgee. Iemand wat die ekstra myl stap vir ander en wat altyd daar is wanneer dit saak maak. Ek hoop hulle dink ek het ‘n goeie sin vir humor. Partykeer lag ons meer oor hoe simpel my grappies is as vir die grappie self. Ek hoop ook hulle sal my beskryf as familie, want hulle is verseker myne.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf