Hoofseun 2024. In ons reeks oor Hoofseun 2024, gesels Schools That Rock vandag ook met die Hoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal, Kurt Coetzee.
Kurt, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskapervaring?
- Ek is Kurt Coetzee en ek kom van Mosselbaai in die Suid-Kaap. Ek is hoofseun van Hoër Landbouskool Oakdale in Riversdal. Ek glo ek kan dít wat Oakdale bied met waardes, uit vat en help om die skool te lei. My leierskap ervaring is ‘n goeie uitdaging en regtig wat ‘n mens se brein besig hou by tye. Meer nog is dit tog iets wat ‘n voorreg is en ‘n lewenservaring.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Geloof, nederigheid en respek. Met hierdie waardes glo ek kan jy as leier verbeter in alles wat jy aanpak en dat jy respek sal wen as jy aan hierdie waardes kan vashou.
Vertel ons van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En ook vir Hoër Landbouskool Oakdale.
- As Hoofseun 2024 wil ek die beste leier wees wat ek kan wees om die skool te lei na hoër hoogtes op elke gebied van die skool.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- Hoe ek ‘n situasie ontleed. Dit is wat my help om die uitdagings goed aan te pak en om ‘n verskil te maak, te vergemaklik.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Met mense met respek aan te spreek en die doelwitte duidelik te maak, sodat elke person kan sien waarheen ons werk.
Kurt, as jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Labrador. Dis ‘n hond wat ‘n vreedsame atmosfeer skep met ‘n omgee hart, wat mense laat tuis voel.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Deur met my span te kommunikeer, duidelik te maak wat die verandering is en uit te wys wat ons as span kan beheer om die verandering positief aan te pak.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoër Landbouskool Oakdale?
- Ons waardes wat regtig ‘n groot invloed op elke leerder het en voorberei vir die lewe vorentoe, sodat elke een groot sukses kan bereik.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Jesus, omdat Hy goed uitbeeld hoe om jou waardes op jou alledaagse lewe toe te pas en ‘n groot verskil te maak deur Sy aksies.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Toe ons eerste rugbyspan in 2022 teen Boland Landbou van die Paarl gewen het. Die wen was great, maar die beste was om te sien hoe die skool bymekaar gekom het en regtig die liefde tussen mekaar gewys het op en van die veld.
Kurt, waaroor dagdroom jy?
- Oor elke oomblik wat vir ons spesiaal gemaak is en dat ons regtig die mooi van die lewe moet waardeer wat vir ons geskape is.
Hoe sal jy Graad 7 leerders oorreed om Oakdale te oorweeg vanaf Graad 8?
- Om vir hulle te wys watter verskil Oakdale kan maak in hul lewens met hul pad vorentoe, nie net met hul beroepe nie, maar wel in die lewe.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Wil graag fisioterapeut word en rugby speel. Ek wil by die Universiteit van Stellenbosch studeer.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Geloof-gedrewe, omgee hart, hardwerkend en ‘n passie vir die lewe.
Meer skolenuus: https://www.schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf
Become a Sponsor