Hoofdogter ’24. In ons reeks oor Hoofdogter ’24, gesels ons ook met die Hoofdogter ’24 van Hoërskool Bastion, Krugersdorp, Gauteng, Johané Lamprecht.
Johané, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskapervaring?
- Ek is Johané Lamprecht, die Hoofdogter van Hoërskool Bastion vir 2024. Ek is goed gedissiplineerd wanneer dit kom by harde werk en take wat onmiddellik verrig moet word. Ek was deel van die LVR-raad in Graad 10 en Graad 11. Ek het ook leierskap-opleidingskursusse by die skool bygewoon.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Om Hoërskool Bastion se wapen met trots op jou bors te dra. Dit is vir my die mees belangrike waarde as leier en om op alle gebiede die skool se naam hoog te hou.
Vertel ons meer oor jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir Hoërskool Bastion?
- My persoonlike doelwitte is om van Bastion weg te stap met onderskeidings en ook ander te inspireer om dit te wil bereik. Ek wil almal aanmoedig om te werk vir ‘n 100 % slaagsyfer.
Wat is jou sterkste leiers-eienskap?
- Om ondersteuning aan my medemens te bied en almal met respek te behandel. Deur ook ‘n voorbeeld te stel in alles wat ek aanpak.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Deur hulle deurentyd te herinner dat hulle harde werk raakgesien word, want dit voel soms nie so nie. Ek sal hulle ook motiveer om aan te hou en nie moed op te gee nie.
Johané as jy enige honde-ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Duitse Herdershond, omdat hulle in die veiligheidseenheid opgelei word om te help tydens soektogte. Dis die tipe wat ek in die Bastion omgewing wil wees.
Hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek sal my span raad gee oor byvoorbeeld situasies wat hulle beter kon hanteer of komplimente uitdeel oor hoe hulle ‘n situasie hanteer het.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Bastion?
- Die gehalte van die skool aan die buitekant en die gevoel van veiligheid wanneer jy by die skool instap.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Al my geliefdes. Hoekom ek so sê is omdat elkeen uniek is in sy eie manier. Verder leer ek verskillende eienskappe by elkeen elke dag. Hulle hanteer situasies anders en so leer ek elke dag iets nuuts.
Wat was die hoogtepunt van jou skoollopbaan tot dusver? Hoekom?
- Toe ek in 2023 na die SA-kampioenskappe gegaan het met verspring. Ek kon sê dat ek die eerste atleet in Hoërskool Bastion se geskiedenis is wat op daardie vlak kon uitblink. Dit was lekker om te hoor hoe jonger leerders na my opkyk en dit ook eendag wil bereik.
Johané, waaroor dagdroom jy?
- Ek dagdroom daagliks oor my prioriteite en hoe ek dit gaan bestuur om ‘n sukses daarvan te maak. Dis vir my belangrik om elke taak tot my volle potensiaal te voltooi.
Hoe sal jy Graad 7 leerders oorreed om Hoërskool Bastion te oorweeg vanaf Graad 8?
- Ons is een van min skole in die omgewing wat vol tegnies is en bied verskeie ander vakke saam met baie sportsoorte aan om te geniet. Ons was al met ‘n paar kultuuroptredes op Nasionale vlak en jy ontvang definitief op ‘n goeie manier erkenning.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Ek wil graag medies studeer by die Universiteit van Pretoria en graag ook my passie vir netbal volhou, omdat hulle netbal uitstekend is.
Johané, hoe sal jou vriende jou beskryf?
- Hier is ‘n paar beskrywings van hoe my vriende my sien: “Johané is hardwerkend en altyd gefokus. Sy het ‘n hart van goud en laat ons altyd glimlag al het sy ‘n slegte dag. Sy is altyd daar wanneer ons haar nodig het en nooit bang om te sê wat sy voel reg is nie. Johané is ‘n baie sterk persoon met sterk waardes en alles wat sy doen is 110 % voluit. Ek kyk so baie op na haar.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf