Hoofdogter 2024. In ons reeks oor Hoofdogters 2024, gesels Schools That Rock met die Hoofdogter van Hoërskool Swartland in Malmesbury, Anike van der Merwe.
Anike, vertel ons meer van jouself en jou leierskap. Wat is jou leierskap ervaring?
- My naam is Anike met ‘n ‘e’ aan die einde. Ek kan ‘n introvert of ekstrovert wees afhangend van die situasie. My leierskapstyl is demokraties, want ek hou daarvan om almal se insette in ag te neem. Ek geniet dit baie om ‘n leier te wees, want ek bou verhoudings met mense wat ek nie noodwendig sou nie. Die hoogtepunt van my leierskap was egter om verlede jaar Die Burger se Jeugleierskonferensie te kon bywoon.
Wat is jou mees belangrike waardes as leier?
- Vir my is dit definitief integriteit en eerlikheid. Deur integriteit wys jy vir ander dat dit wat jy doen opreg is en nie net vir aandag nie. Eerlikheid was nog altyd bitter belangrik vir my. Ek voel dat mens altyd eerlik moet wees, maak nie saak hoe moeilik dit is nie. Dit wys dat jy ander ook in ag neem en hulle vertrou met die waarheid.
Vertel ons meer van jou persoonlike doelwitte vir jou leierskapjaar? En vir jou skool?
- Vir my, as Hoofdogter 2024, sal dit wees om te lei deur ‘n goeie voorbeeld te stel. Ek voel dat ‘n goeie voorbeeld meer sal verrig as wat jy iets op die leerders probeer afdwing. By die skool is my doelwit om eenheid tussen ons VRL en die ander leerders te bewerkstellig. Op die oomblik voel hierdie twee groepe bietjie verdeeld. Ek wil dit verander dat ons saamstaan as een skool.
Wat is jou sterkste leierseienskap?
- Ek sal sê dat ek goeie kommunikasie met die leerders het en dat dit aansluit by my demokratiese leierskapstyl.
Hoe kry jy samewerking (commitment) van jou span?
- Ek maak seker dat hulle weet wat van hulle verwag word deur duidelike doelwitte te stel. Ook deur beplanning betyds te doen en reëlings vroegtydig te tref.
As jy enige honde ras kon wees, watter ras sou jy wees? Hoekom?
- ‘n Cocker Spaniël, want ek kan sag en oulik wees, maar as jy my kwaad maak dan sal ek reageer.
Anike, hoe sal jy jou span lei deur verandering?
- Ek sal hulle herinner dat dit ‘n kans is om nuwe vaardighede aan te leer en buite hul gemaksone te kom. Ek sal hulle verseker dat hulle ‘n goeie ondersteuingstelsel het en enige tyd vrae kan vra. Hulle moet dit as ‘n avontuur sien en nie as ‘n struikelblok nie. Dis boonop ‘n leerskool vir die wêreld en lewe na skool.
Wat staan die meeste vir jou uit by Hoërskool Swartland?
- Ons is ‘n gebalanseerde skool wat ewe goed in akademie, sport en kultuur presteer. Die rede daarvoor is dat ons onderwysers het wat baie passievol is oor hul rigting en moeite doen om dit vir die leerders lekker te maak. Dit staan vir my uit, want dit berei die leerders voor om ‘n gebalanseerde lewe na skool ook te lei.
Wie is die persoon na wie jy opsien? Hoekom?
- Definitief my ma. Sy stel altyd ander mense eerste sonder om twee keer te dink. Sy is ook baie hardwerkend en sodra sy iets begin, maak sy dit klaar. Sy het ‘n baie mooi persoonlikheid en is maklik om mee oor die weg te kom. My vriende is mal oor haar, maar sy weet ook wanneer om streng te wees deur ‘n situasie te lees.
Wat was die hoogtepunt van jou skoolloopbaan tot dusver? Hoekom?
- Die musical “Droomreis” waarin ek in 2022 deelgeneem het. Dit was baie pret en het my geleer om hard te werk en ekstra ure in te sit. Alhoewel daar ook baie struikelblokke was, het dit my net sterker gemaak en ek het met baie nuwe vriende weggestap.
Waaroor dagdroom jy?
- As ons by die skool is dagdroom ek meestal oor my pousekos. Andersins om eendag ‘n werk te hê wat ek sal geniet en wat my roeping is. Ook om eendag my dans passie uit te leef.
Hoe sal jy graad 7 leerders oorreed om jou skool te oorweeg vanaf Graad 8?
- HSS is ‘n skool wat al die geleenthede vir jou bied wat ander topskole bied, maar het nog steeds ‘n plattelandse gevoel. Ons is nog steeds ‘n familie en hier raak jy nie in die massas weg nie, maar jy word herken vir jou talente en jou unieke persoonlikheid.
In watter rigting wil jy studeer na skool? By watter Universiteit?
- Ek is nog onseker, maar van my opsies sluit BSc Etologie, Dieetkunde en Wildlewe Biologie in. Ek sal graag by NWU in Potchefstroom wil studeer.
Hoe sal jou vriende jou beskryf?
- My vriendin beskryf my as baie eerlik in alle situasies. Ook as hardwerkend, maar nederig. Sy sê ek is baie keer ernstig, maar kan laf wees en pret hê op die regte oomblikke.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf