Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Sarise Oosthuizen. Sarise is die kaptein van Hoërskool Langenhoven, Riversdal, se 1ste meisies hokkiespan. Sarise teken vandag die vyfde doel aan in ons nuwe reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het eers op die ouderdom van elf begin hokkie speel. My Laerskool het eers in my graad 5 jaar hokkie as ‘n sport begin aanbied. Ek hou baie van hokkie omrede dit vir my lekker is om in ‘n span saam te werk. Verder geniet ek die verskillende “skills” wat ‘n mens kan aanleer en die “challenges” wat die sport bied. Ek wou nog altyd ‘n sport doen wat ons laerskool aanbied. Toe hulle hokkie begin aanbied, het ek die geleentheid aangegryp. Ek het egter daarmee aangehou omrede die sport ‘n uitdaging bied.
My gunsteling hokkiespeler is Lilian du Plessis. Ek hou van die manier hoe sy saam met haar span werk om die bal te kry waar sy moet. Dit het dadelik my aandag getrek toe ek haar die eerste keer gesien speel het. Ook was dit nie net haar vermoë om goed in ‘n span te werk wat my aandag getrek het nie. Dit was ook die “skills” wat sy gebruik het om verby haar opponente te kom.
Die posisie wat ek tans speel is ‘Sweeper‘. Ek het al vantevore ‘right back’, ‘middle back’, ‘left back’ en selfs ‘middle link’ gespeel.
Eerste keer kaptein
Die eerste keer wat ek verkies is as die kaptein, was van ons 0/14A hokkkiespan in 2018. Hierdie jaar is die eerste jaar wat ek verkies is as die eerstespan se kaptein. Ek sal sê dat die grootste taak van ‘n kaptein op die veld is om jou span aan te moedig en motiveerd te hou regdeur die wedstryd. ‘n Kaptein moet ook reg wees om probleme aan te spreek wanneer dit nodig is. Tydens oefening, sal ek sê, dat ‘n kaptein se grootste taak is om seker te maak dat elke speler haar beste gee, want soos hulle sê: soos jy oefen, so gaan jy speel.
Ons span oefen tans drie keer per week. As gevolg van my besige akademie- en sport program, het ek nie my eie vaste oefenprogram nie.
Ek dink ‘n goeie hokkiespeler moet bereid wees om hard te werk en nie gou op te gee wanneer dinge moeilik raak nie. ‘n Goeie hokkiespeler, in my oë, moet saam met ‘n span kan speel. Dit help nie jy het een goeie speler maar sy kan nie as ‘n span saamspeel nie. Hokkie is ‘n spansport en só sal jy wedstryde wen.
My sleutel tot sukses op die hokkieveld is om aan te hou speel tot die fluitjie blaas, maak nie saak wat nie. Om positief te bly is egter die grootste sleutel tot sukses, omrede jy nie jou beste kan gee as jy negatief is nie.
Vertroue
Die feit dat ek my span kan vertrou en weet dat ons goed kan saamwerk, inspireer my elke keer wanneer ek op daardie hokkieveld stap. Ook om te weet dat ons, óf iets gaan leer vandag óf gaan wen, maar ons sal nooit ten volle verloor nie.
Die lekkerste wedstryd vir my sover, was ‘n onlangse wedstryd waar die kompetisie baie sterk was. My spanmaats het egter hulle man gestaan en nie opgegee nie. Ons het eers gedink dat ons gaan verloor, maar na ‘n paar bemoedigende boodskappe, het ons die veld betree. Dit was warm en niemand het eintlik krag gehad vir nog ‘n wedstryd nie, maar die beste deel vir my was dat ons toe saam as ‘n span gewerk het om die oorhand in die wedstryd te hê. ‘n Gelykop uitslag het nog nooit so goed vir my gevoel nie. Om almal se gesigte en uitdrukkings te sien toe ons van daardie veld afloop, was vir my beslis iets wat ek vir altyd sal koester.
‘n Wedstryd wat ek gou sal wil vergeet, is ‘n wedstryd waar ek en my span mekaar nog eers leer ken het. Dit was ons heel eerste wedstryd van die jaar, en daarom het ons geweet dit gaan maar sukkel. Ons het glad-nie met mekaar gepraat nie en my ‘skills” het ek glad-nie gewys nie. Ek het die domste foute gemaak, wat die span baie gekos het. Maar met daardie wedstryd het ons baie van mekaar geleer en gesien waar almal se swak punte is. Ons het ook geleer om te begin kommunikeer en tot vandag toe is ek nie spyt oor daardie wedstryd nie. Ek wil eerder daarvan vergeet, maar dÃs die wedstryd wat ons as span gevorm het en die meeste uit geleer het.
Hanteer druk
Tydens ‘n hokkiewedstryd hanteer ek druk deur kalm te bly en te vergeet van die telling op die bord. Ek fokus net op waar ons kan verbeter en om die span motiveerd te hou.
As hokkie kaptein motiveer ek my span meestal deur motiverende kommentaar te lewer wanneer een van hulle iets goeds doen of regkry. Ek kan sien dat dit hulle help wanneer iemand sien dat hulle iets regkry en reg doen. Ek probeer ook om tydens halftyd vir hulle positief te hou en aan te moedig vir die laaste helfde of kwart.
My huidige top vyf prioriteite is geloof, familie, vriende, akademie en sport.
Vir beginners in hokkie wil ek net sê om nooit op te gee nie. Daar gaan tye wees wat jy nie die “skill” regkry nie en net wil opgee, maar om op te gee gaan jou nêrens bring nie. Dit mag dalk ‘n stadige proses wees, maar as jy gaan ophou, gaan dit nie die proses vinniger maak nie.
Ek kyk na hokkiewedstryde op die TV wanneer ek kan, want dis lekker om die verskillende “skills” te sien wat almal het en ook hoe die spanne as ‘n span saamwerk. Ja, ek het al probeer om ‘n professionele speler na te boots op “skills” wat hulle gedoen het, maar dit het eers nie goed afgeloop nie. Ek het wel nie opgegee nie en kon toe later dit regkry na baie probleerslae.
Grootste doelwit
My grootste doelwit vir hierdie jaar, wat sport betref, sal wees om ons interskole hokkiewedstryd te wen. Maar in die algemeen sal my doelwit wees om my akademiese gemiddelde te behaal waaraan ek werk vir die einde van die jaar.
Ek hanteer my verantwoordelikhede deur alles betyds te begin doen en af te handel. Deur dit reg te kry bevat baie noue beplanning en daarom bestee ek my tyd baie goed sodat ek by alles kan uitkom.
Ek sal baie graag met hokkie wil aangaan na skool, maar dit sal alles afhang van hoe besig my skedule gaan wees op universiteit.
My grootste sport-hoogtepunt in die afgelope 5 jaar was toe my kleindogtertjie droom waar geword het. Dit is toe ek as die kaptein van my skool se eerste hokkiespan gekies is. ‘n Hoogtepunt wat daaraan gelyk is, is toe ek op ons onlangse toernooi gekies was om saam met ‘n span te toer na Nederland.
Ja, ek het wel ander belangstellings buiten hokkie. Ek het onlangs in ‘n nuwe sportsoort, formule 1 wedrenne, begin belangstel. Ek geniet dit om die wedrenne te kyk en te volg.
Geduld
My spanmaats beskryf my as ‘n goeie luisteraar en iemand wat altyd bereid is om te help. Hulle beskryf my ook as iemand wat almal se opinies in ag neem en dat ek geduldig is.
My bekwaamhede waaroor ek beskik as goeie hokkiespeler, is dat ek nie opgee voordat ek bereik wat ek wil hê nie. Ek is ook ‘n goeie spanspeler.
Ek het al goeie voorstelle gemaak wat wel gewerk het. Dit is dat ons as span meer moet kommunikeer met mekaar oor wie watter speler aanvat. Dit het ons span baie gehelp in die daaropvolgende wedstryde.
Ek sien op na ons nuwe afrigter, Tanya Britz, omrede sy altyd vriendelik is en bereid is om te help. Sy laat jou ook nie sleg voel wanneer jy iets verkeerd doen nie, maar help jou eerder reg. Ek dink almal moet bereid wees om, soos sy, te help en saam met dit vriendelik te wees. Sy is ook altyd entoesiasties oor wat sy doen en dis iets om na op te kyk en na te volg.
Wat my die meeste opgewonde maak in die lewe, is wanneer ek sien hoe mense se drome waar word en hulle bereik wat hulle wou. Nog iets is wanneer ek sien hoe God in iemand se lewe werk en hulle heeltemal verander.
Iemand met wie ek graag wil koffie drink, is Lilian du Plessis. Sy speel vir die nasionale span.
As ek myself in een woord moet beskryf, sa dit wees: hardwerkend.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf