Hokkie kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels met Schools That Rock vandag met Megan van Biljon. Megan is die kaptein van Hoërskool Trio, Kroonstad, se 1ste meisies hokkiespan. Sy teken vandag die twintigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het begin hokkie speel toe ek 7 jaar oud was.Ek dink in Graad 1 het ek maar net al hokkie gespeel omdat almal dit gespeel het. Maar toe ek moes begin om keuses te maak tussen my sportsoorte, het ek hokkie gekies omdat ek dit baie geniet het. Dit is ‘n sport wat ek geniet, en nie omgee of ek in ‘n die A-span speel of nie.
Ek is nie baie goed daarmee om name te onthou nie, maar ek hou baie van Maddie Hinch. Sy is van Britanje en word ook as een van die wêreld se beste ‘goalies’ beskou. Sy is ‘n dubbel Olimpiese medaljehouer.
Die posisie wat ek tans speel is ‘sweeper’. Ek het nog altyd ‘n posisie tussen ‘n ‘back’ en ‘n ‘sweeper’ gespeel.
Grootste taak
Ek is vanjaar vir die eerste keer as hokkie kaptein aangewys. As ek aan ‘n kaptein dink, dink ek aan iemand wie se grootste taak is om ten alle tye die span te motiveer en positief bemoedig. Maar ek dink ook ‘n kaptein moet self onder druk kan speel. Sy moet haarself ook motiveer om haar kop op te lig en aan te hou speel.
Ons span oefen 3 keer ‘n week saam. Ek hou ook daarvan om soms op my eie te gaan draf of ‘n bietjie te gym.
Ek dink vir enige spansport moet mens ook selfdissipline hê asook respek vir jou spanmaats. ‘n Goeie hokkiespeler moet definitief ook selfvertroue hê en nie bang wees om op die veld te gaan nie.
My sleutel tot sukses is om aan te hou veg tot die einde toe, al maak jy foute. Dis al hoe ‘n mens leer. Moet ook nie dat ‘n telling, speler of span, in jou kop kom en jou intimideer nie.
Wat my elke keer wat ek op die hokkieveld stap inspireer, is om saam met ‘n span op te draf wat dieselfde liefde vir hokkie het as wat ek het. Ook om elke keer die voorreg te hê om ‘n nuwe kans te kry om te kan speel.
Hoërskool Witteberg
Ons het onlangs ‘n wedstryd teen Hoërskool Witteberg van Bethlehem gespeel. Dit was vir my ‘n baie lekker wedstryd omdat ek vir die eerste keer gesien het waartoe ons eintlik in staat is. Ons het alles waaraan ons wou werk in ‘n wedstryd, begin regkry en lekker as ‘n span saamgespeel.
Daar is nie regtig ‘n wedstryd wat ek graag wil vergeet omdat dit sleg was nie, omdat ons uit elke wedstryd iets leer. Daar is wel een uitslag wat ons teen ons gekry het, wat ek wil vergeet. Ek het ook geleer dat die telling nie altyd die ware spel wat gespeel was, reflekteer nie. Mens moet nooit dat dit jou negatief maak nie.
As hokkie kaptein hanteer ek druk deurdat ek regtig probeer met alles in my om net kalm te bly, en net aan te hou om te speel soos ek normaalweg sou speel. Ek herinner myself ook daaraan dat ek nie alleen is in die span nie. My spanmaats is daar om my te help.
Ek hou daarvan om op die veld my spanmaats positief aan te moedig as hulle iets goeds gedoen het. Verder motiveer ek ‘n speler wanneer sy ‘n fout gemaak het. By oefeninge probeer ek ook altyd om die gees op te bou en grappies te maak met almal.
Prioriteite
Wat is my huidige top 5 prioriteite in my lewe?
- Geloof
- Familie en Vriende
- Akademie
- Sport en oefening
- Ontspanning
Ek sou enige beginner aanmoedig om hokkie te geniet. Sodra mens iets geniet, raak jy sommer vanself beter daarin.
Op die oomblik kyk ek nie meer so baie na hokkiewedstryde op TV nie. Ek geniet dit vreeslik om te kyk wanneer die Universuteite teen mekaar speel, of enige ‘live games’ op YouTube.
Ja, Ja ek het al probeer om ‘n professionele speler na te boots. Ek dink partykeer vergeet mens dat die druk vir professionele spelers ook soms baie raak. Ek bewonder die spelers vir hoe positief hulle bly deur alles.
Doelwit
Vir die volgende ses maande is my doelwit om die laaste paar wedstryde wat ek oor het op skool, regtig ten volle te geniet. Ek gee nie om oor wen of verloor nie, ek wil net probeer om elke ‘game’ tot die beste van my vermoë te speel.
Hoe hanteer ek my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Die afgelope maand, met eksamen wat begin, was dit regtig moeilik, maar moontlik, om by alles uit te kom. Dis waar wat mense sê – “hoe meer jy doen, hoe meer kry jy gedoen.” Dit is ‘n eer en voorreg om hokkie kaptein te wees, en daarom is die verantwoordelikhede van hokkie vir my ‘n prioriteit.
Ek sal mal wees daaroor om nog op universuteit hokkie te kan speel. Alhoewel ek nie dink daar gaan tyd wees om op ‘n hoë vlak te speel nie. Dit sal egter baie lekker wees as ek eendag vir die Universiteit kan speel.
Ek sou sê my grootste hoogtepunt was toe ek ‘n medalje net-net gemis het in 2019, en ‘n vierde plek in verspring by die SA Skolekampioenskappe behaal het.
Ander belangstellings buiten hokkie? Ja, ek hou daarvan om fiks te bly deur te draf of te gym en ook om musiek te luister.
Bekwaamhede
Bekwaamhede waaroor ek as hokkie kaptein beskik is dat ek iemand is wat aanhou veg tot die einde. Ek bly positief en motiveer ook my span. Verder hou ook daarvan om mooi hokkie te speel deur ‘n goeie sportmangees te openbaar. Ek dink my afrigter en my spanmaats sou my beskryf as iemand met uithouvermoë en ook as ‘n positiewe mens.
As ons nuwe planne maak vir ons wedstryde, sal ek altyd probeer om my span te herinner aan dit wat ons geoefen het. Ek motiveer die span ook om die “game plan” te vertrou.
Op die oomblik is ons afrigter, juffrou Rieze Swart, definitief my rolmodel. Ek is verstom oor hoe baie selfvertroue sy in my as hokkie kaptein en speler het. Sy maak ‘n groot verskil in ons span. Ek sou nie wees waar ek nou is sonder haar motivering en hulp nie!
Die dinge waarna ek die meeste uitsien in die lewe, is om tyd, al is dit net vir ‘n naweek, saam met mense vir wie ek lief is te spandeer. Ek is altyd opgewonde as ek tyd saam met my familie of goeie vriende kan spandeer.
Ek sal baie daarvan hou om saam met Suid-Afrika se vrouehokkiespan se kaptein, Erin Hunter te gaan koffie drink.
As ek myself in een woord moet beskryf – hardwerkend.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf