Hoërskool Nelspruit revue.
Nadat jy in die gehoor van Variété 2022 gesit het, is jy net nie meer dieselfde mens as voorheen nie! As jy jou weer kan kry, neurie jy een van die 28 liedjies wat gesing is. Die verskeidenheid van liedjies gesing deur talentvolle soliste, uitstekend gechoreografeerde danspassies en talle verhoogverrassings het dié produksie onvergeetlik gemaak.
Vanjaar se vertoning is in Hoërskool Nelspruit se skoolsaal aangebied. Die tema van hierdie produksie was ‘n viering van NHS se 70ste verjaarsdag deur ‘n musiekterugblik.
Wikus van Biljon (gr.12) en Ronel Basson (gr.10) het as programleiers opgetree. Ronel het gedurende die aand lieflik in ses verskillende stylvolle ontwerpersrokke vertoon. Sy het saam met Wikus die verskillende temas van musiek voortreflik oorgedra.
Musiekhoogtepunte
Die eerste deel van die vertoning se musiek en danse is op die laaste dekade van gebaseer. Talentvolle Zimri Leuvennink het die vertoning ingelei met haar weergawe van Little Bird. Daarna het die sjarmante Dewald Vorster, Sam Smith se Stay with me, gesing. Die is konsertgangers verras met Berno Venter se Wonder. Berno het aan die einde van sy liedjie op ‘n vleuelklavier in die middel van die verhoog gestaan. Die konsertgangers was op die punte van hul stoele toe water uit die dak op hom én die klavier gereën het.
Daarna was die volgende tema filmmusiek uit Frozen, Footloose en Beauty and the Beast. Die vernuftige dansers, Jodi dos Santos, George Bouwer en Nicolas Smook het gesorg vir ‘n onvergeetlike oomblik met hul danspassies op die liedjie Never enough, met oorgawe gesing deur Chanel Koch wat reeds in 2021 haarself as solis bewys het.
Daar is ook hulde aan vrouesangers van die laaste eeu gebring. Ester de Kock het baie emosie uitgelok met Madonna se Don’t Cry for me, Argentina. Met Proud Mary, gesing deur Immaracia Masuku, is die vloer warm gedans. Single ladies, gesing deur Zimri, se choreografie was uit die boonste rakke.
Laaste eeu
Daar is ook hulde aan groepe gebring wat die laaste eeu saam gesing het. Die diep stem van Edu van Staden eggo seker nog steeds met die Sound of Silence in die skoolsaal. Net toe die gehoor wonder wat kan meer hoendervleis gee as dit wat verby is, begin Marnieke Pretorius, Bohemian Rhapsody sing soos jy dit nog nooit gehoor het nie!
Die laaste gedeelte van die vertoning is aan Afrikaans opgedra. Bobjan (gesing deur Juvan Sevenster), Blouberg se strand (Jomarié du Toit) en Redgebed (Neelsie van Dyk) is puik uitgevoer. Dit het nie ‘n tree teruggestaan vir die eerste helfte nie. Met ‘n kort videogreep wat op sosiale media gedeel is, het Steve Hofmeyer hierdie weergawe se lof besing.
By monde van die programleiers is aangekondig dat dit nou die einde van ‘n hoofstuk is. Gelukkig kom daar ’n nuwe hoofstuk! NHS sien reikhalsend daarna uit om steeds jaarliks ongelooflike produksies op die planke te bring.
Dit is onmoontlik om van elke item en leerder in ‘n berig melding te maak. Hou dus NHS se sosiale media dop om die skakel te bekom om hierdie produksie te koop en aanlyn te kyk. Dit is ‘n besliste moet sien!
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s: Hennie Homann