Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Leane Potgieter. Leane is die kaptein van Hoërskool Jim Fouché se 1ste meisies hokkiespan. Sy teken vandag die drie-en-dertigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“My eerste kennismaking met hokkie was op sewejarige ouderdom. Ek geniet die spel. Hokkie leer my uithouvermoë en dissipline. Ek groei ook in my karakter en ontwikkel as persoon. Dit is die rede vir my passie met hokkie.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Majo Granantto. Haar spoed en ‘hands’ is ongelooflik. Haar ‘intensity’ gedurende ‘n wedstryd bly hoog en sy het alles wat van ‘n uitstekende hokkie speler vereis word.
Die posisie wat ek tans speel is ‘blocker’ (centre link). Ek het ook in al die ander posisies gespeel, behalwe ‘goalie’.
Ek is hierdie jaar die eerste keer as hokkie kaptein gekies. Volgens my is die belangrikste taak van ‘n hokkie kaptein om die span gemotiveerd te hou en om honderd persent te gee tydens oefeninge asook gedurende wedstryde.
Ons span oefen drie keer per week vir twee ure of een-en-‘n-half uur. Buiten span-oefeninge het ek ook my eie oefenprogram. Ek sukkel ‘n bietjie tans om daarby uit te kom as gevolg van akademiese druk.
Bekwaamhede
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie hokkie speler moet beskik is beslis dissipline en vertroue. My sleutel tot sukses op die hokkieveld is om in myself te glo.
Elke keer wanneer ek op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd, word ek geïnspireer deur die feit dat ek moet speel asof dit my laaste wedstryd is. Covid-19 het my laat besef dat elke wedstryd my laaste kan wees.
My lekkerste wedstryd in my hokkie loopbaan was die eerste jaar wat ek vir JF se eerste span gespeel het by die Classic Clashes. Die wedstryd was teen Hoërskool Sentraal. Dit was die laaste wedstryd en al die druk was op ons. Die rede vir die druk was dat al ons ander spanne, vanaf O.14 tot O.18 teen Sentraal gewen het. Ons hét toe die wedstryd gewen! Dit was ook die eerste keer dat die hele skool teenwoordig was om ons te ondersteun.
Die wedstryd wat ek beslis gou wil vergeet, was toe ons teen Bethlehem Voortrekker Hoërskool gespeel het. Dié betrokke dag was dit só koud en reënerig dat dit half onmoontlik was om die hokkiestok vas te hou. Dit was ook moelik om te sien as gevolg van die water wat oor jou gesig en oë geloop het.
As hokkie kaptein vaar ek goed onder druk tydens wedstryde. Ek probeer gewoonlik om net rustig te bly en, sodra die druk te erg word, bid ek.
Motivering
Ek motiveer my span deur hulle te oortuig dat ons ons hart op die veld te sit. Ons moet vir mekaar, vir JF, en die belangrikste vam alles om vir God te speel!
My huidige top vyf prioriteite in die lewe tans, is akademie, hokkie, om my dans-eksamens klaar te maak en my ‘teachers’ te kan behaal. Verder is dit JF en om kwaliteit tyd saam met my familie en gesin te spandeer voordat ek weggaan om te studeer.
My raad aan hokkie-beginners is om te speel om dit te geniet. Glo in jouself en moenie gou moed opgee nie.
Ja, ek kyk gereeld na hokkie wedstryde op televisie sodat ek kan sien wat van my verwag word as ek eendag ook op daardie vlak wil speel. Ek kyk ook wat ek moet doen in my posisie en wat ek moet verbeter.
Ek het al professionele hokkie spelers nageboots deur my hare soos hulle s’n te maak vir ‘n wedstryd.
Doelwit
My doelwit vir hokkie is dat ek graag vir die universiteit se eerste span wil speel. As dit die Here se wil is sal ek graag eendag SA’s wil speel. Ek wil ook aanvaar word by die universiteit vir die kursus wat ek wil gaan swot.
My verantwoordelikhede by hokkie saam met my sosiale en akademiese verantwoordelikhede hanteer ek deur te prioritiseer en goeie tydsbestuur te handhaaf.
Ek sal graag wil voortgaan om hokkie te speel op universiteit-vlak en hopelik vir die nasionale span.
My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was toe ek die eerste keer SA verteenwoordig het in die Czech Republic vir dans – meer spesifiek “disco”. Daarmee saam, toe ek in 2019 gekies is vir die eerste hokkiespan en vanjaar as die eerste span kaptein.
Buiten hokkie is my ander belangstelling dans. Ek is tans besig met my ‘teachers’ in acro en ek doen my laaste ‘modern’ en ‘freestyle’ eksamen sodat ek met my ‘teachers’ kan begin.
My afrigter en spanmaats beskryf my as volg: Leane is die vriendelikste kaptein. Sy is baie geduldig met ons en sy het ons altyd gehelp en ons getroos as ons nie lekker gevoel het of gespeel het nie. Sy motiveer my altyd en sy ‘back’ my altyd.
Vaardighede
As hokkie kaptein en -speler beskik ek oor goeie vaardighede met die bal. Ek kan die spel lees en ek werk hard wanneer ek die bal het of selfs wanneer ek nie die bal het nie.
Ek kyk op na my vorige en huidige afrigters omdat hulle al soveel bereik het en ook die voorreg gehad het om topspanne af te rig.
My toekoms en my drome maak my die meeste opgewonde in die lewe.
Ek sal graag wil koffie drink saam met Majo Granantto.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit toegewyd wees.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf