Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Danel Olivier. Danel is die kaptein van Hoërskool Ermelo in Mpumalanga se 1ste meisies hokkiespan. Sy teken vandag die agtiende doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het op die ouderdom van 9 jaar begin hokkie speel. Vir net een jaar het ek mini hokkie gespeel en het toe van die ouderdom van 10 af groot baan gespeel. Ek het as gevolg van my ouer broer en suster begin hokkie speel, omdat hulle hokkie gespeel het. Die rede hoekom ek van hokkie hou is omdat ek afskakel van die wêreld daar buite en slegs aan my werk op die baan hoef te dink.
My gunsteling professionele hokkiespeler is Xan de Waard. Sy speel vir die Nederlandse vroue hokkiespan. Sy is my gunsteling speler omdat sy my posisie speel en haar manier van spel baie soos myne is.
Die posisie wat ek tans speel is ‘Middellink‘ wat ook my gunsteling posisie is. Ek het al elke posisie op die baan gespeel, behalwe ‘Goalie’, alhoewel ek al gevolunteer het daarvoor.
Die eerste keer wat ek as kaptein aangewys is, was in die laerskool. In graad 9 was ek vir die eerste keer in die hoërskool aangewys as kaptein van die o/15 span.
Grootste taak
Ek sal sê die grootste taak van die kaptein is om ‘n voorbeeld op en van die veld te wees. Dissipline en spel-gewys. Die kaptein neem ook van die belangrikste besluite en moet nie maklik onder groepsdruk val nie.
Ons span oefen saam drie keer ‘n week in die gym en dan daarna op die baan. Op af-dae word daar van elkeen individueel verwag om te gaan draf. In die hokkieseisoen het ek nie my eie oefenprogram nie, maar wel buiteseisoen.
‘n Goeie hokkie speler moet hokkie goed verstaan en baie insig hê. Dis belangrik om hokkie te ken as jy dit goed wil speel. Jy moet nie bang wees om hard te werk nie. Dis die “effort” wat jou in ‘n ander klas plaas. Jy moet bereid wees om te leer.
My sleutel tot sukses, as hokkie kaptein, is om op my af dae net so hard te werk, want ek wil nog steeds die beste wees op my swakste.
My span is my grootste inspirasie. Elke keer wanneer ek op die veld stap voor ‘n wedstryd weet ek dat ek nie bang hoef te wees nie want elke speler in my span het my rug.
Lekkerste wedstryd
In graad 9 het ons teen Afrikaans Hoër Meisieskool gespeel en gewen. Dit was my lekkerste wedstryd gewees. Nie net omdat ons as span baie goed gespeel het nie, maar omdat niemand dit van ons verwag het nie!
My eerste wedstryd as deel van die eerste span was teen Middelburg Hoërskool in my graad 11 jaar. Dit was die eerste wedstryd waar ek gevoel het of ek niks weet van hokkie af nie. Die afrigter het my afgehaal en my spel bevraagteken. Dit was ‘n wedstryd wat ek nie wil onthou nie. Ek het hieruit geleer dat jy soms gaan misluk, maar dit wat jy daarna doen, tel die meeste.
Ek hanteer druk deur die sê-ding “fake it, until you make it” te gebruik. Sodra druk op my geplaas word, skep ek ‘n prentjie in my kop waar ek die situasie oorwin en dit maak my kalm. Sodra ek kalm is, kan ek helder dink en die situasie aanpak.
As hokkie kaptein motiveer ek my span deurdat ek probeer om elkeen se klein oorwinninge raak te sien en hul daaroor geluk te wens. Dis vir my ook belangrik om die positiewe in elke situasie raak te sien en dit te gebruik om die spelers op te bou.
My huidige top 5 prioriteite in die lewe is my verhouding met God, my akademie, my familie en vriende, my verantwoordelikheid by die skool en myself.
Raad aan beginners
My raad vir ‘n beginner in hokkie is om dít wat jy weet kant toe te sit en dít wat jy geleer word te vat asof jy niks weet nie.
Ek kyk na enige hokkie wat op die TV wys. Ek leer baie van hokkie deur daarna te kyk. Sodra ek sien hoe iets moet gebeur kan ek dit makliker toepas. Ek het al baie soos die professionele spelers probeer aantrek, in die wyse van hoe hulle hul kouse optrek en hul hare dra, die soort skoene en stok wat hulle het.
My doelwit vir hierdie jaar is dat ek graag aan die einde van die jaar wil trots wees op my matriekpunt wat ek verwerf het. My doelwit vir die volgende vier jaar sal wees om my graad in BCom Rek te verwerf.
Hoe hanteer ek my verantwoordelikhede by hokkie saam met sosiale en akademiese verantwoordelikhede? Dis vir my baie belangrik om reg te prioritiseer. Ek beplan weekliks om by al my verantwoordelikhede uit te kom. Gelukkig het ek natuurlik baie ondersteuning van my ouers en vriende.
Ek sal graag na skool by ‘n hokkieklub wil aansluit waar ek kan hokkie speel. Om professioneel met hokkie voort te gaan nie is nie op my lys nie.
My grootste hoogtepunt hierdie jaar was om as Sportkaptein te kon voorloop waar ons hierdie jaar die Interhoër gewen het.
Ander belangstellings
Ja, ek het wel ander belangstellings buiten hokkie. Ek hou baie daarvan om aktief te wees en neem dus ook aan Atletiek en Tennis deel. Ek hou daarvan om te lees en teken graag as ek tyd kry.
My afrigter en spanmaats sal my beskryf as ‘n perfeksionis en iemand wat altyd koffie drink!
As hokkie kaptein, kan ek hokkie baie goed verstaan en ek lees die spel baie goed. Ek is hardwerkend en hou daarvan om te verbeter. Verder spandeer baie ekstra tyd aan hokkie om te verbeter. Ek het ook al baie voorstelle gemaak om ons spel te verbeter na ‘n professionele vlak. Ons spelers instaat is om dit te kan doen. Ons speel nou dieselfde struktuur en formaat as professionele spanne.
My groot rolmodel vir my is my ouer broer. Hy het baie tyd spandeer aan sy hokkie en is ‘n fantastiese speler. Dit is my grootste droom om al die “tricks” wat hy kan doen ook te kan doen sodat ek hom net een keer kan wen!
Dít wat my die opgewondste in die lewe maak, is wanneer iets gebeur wat ek nie verwag nie. Ek hou daarvan dat die lewe onvoorspelbaar is en dit maak my opgewonde.
Die professionele hokkiespeler saam met wie ek graag wil koffie drink is Xan de Waard.
As ek myself in een woord moet beskryf, sal dit wees Perfeksionisties.”
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf