Hokkie Kapteins. In ons reeks oor sport kapteins, gesels Schools That Rock vandag met Cloete Jansen van Vuuren. Cloete is die kaptein van Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein se 1ste seuns hokkiespan. Hy teken vandag die ses-en-dertigste doel aan in ons reeks oor Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika.
“Ek het begin hokkie speel in Graad een op die ouderdom van sewe jaar. Hokkie is my gunsteling sportsoort, want ek geniet die verskillende maniere om goed te wees in die sportsoort. Die spoed waarteen hokkie gespeel word is ook vir my baie lekker,
My gunsteling professionele hokkie speler Is Jamie Dwyer. Hy is ‘n uitstekende hokkie speler en hy het die FIH International Player of the year toekenning vyf keer gewen!
Die posisie wat ek tans speel, is ‘attacking midfielder’. Ek speel ook soms ‘striker’.
Eerste keer kaptein
Ek is die eerste keer as hokkie kaptein in 2021, my Graad 11 jaar, gekies. Dit was toe reeds my derde jaar wat ek vir die eerste span gespeel het. Ek dink die grootste taak van ‘n hokkie kaptein is om die intensiteit hoog te hou. Hy moet ook seker maak dat die spelers die afrigter se plan uitvoer. Nog ‘n belangrike taak is om almal in die span kalm te hou.
Ons span het drie veld oefensessies per week en twee ‘gym’ sessies. Ek oefen ook saam met die SFS span. Buiten dit, oefen ek op my private mini-astro by die huis.
Die bekwaamhede waaroor ‘n goeie hokkie kaptein en speler moet beskik, is die vermoë om kalm te bly onder stresvolle situasies. Jy moet ook oor vinnige reaksies en goeie hand-oog koördinasie beskik.
My sleutel tot sukses op die hokkieveld is om te ‘focus on the things you can control.’
Wat my inspireer elke keer wanneer ek op die hokkie veld stap vir ‘n wedstryd, is die wil om beter te wees as wat ek gister was.
Maritzburg College
My gunsteling wedstryd was teen Maritzburg College. Dit was tydens ons toer aan die einde van April hierdie jaar. Dit was ‘n wedstryd waar daar goeie hokkie gespeel is deur albei spanne. Die wedstryd-telling was gelykop tot op die laaste vyf minute van die wedstryd, toe ons ‘n wonderlike span-‘goal gescore’ het. Dit was waarlik ‘n spanpoging gedurende die hele wedstryd waarin almal hul deel gedoen het.
Die wedstryd wat ek gou wil vergeet, was tydens ‘n oefenwedstryd by ‘n oefenkamp. Ek het ‘n erge enkelbesering opgedoen wat veroorsaak het dat ek vir tien weke lank glad-nie kon oefen nie.
Ek hanteer druk tydens wedstryde deur seker te maak ek haal diep asem en fokus op die taak op hande.
As hokkie kaptein motiveer ek my span deur ‘n goeie voorbeeld op die veld te stel. Ek maak seker dat ek nooit opgee nie. Ek maak ook seker dat die span altyd die groter prentjie in gedagte hou. Mens hoef nie elke wedstryd te wen nie. Die belangrikste ding is dat jy verbeter van een dag na die volgende.
Top vyf prioriteite
My huidige top vyf prioriteite is Christendom, akademie (keuring vir universiteit), verhoudinge met mense (familie en vriende), hokkie en om die lewe te geniet.
My raad aan hokkie-beginners is om nooit op te hou oefen nie. Jy kan nooit genoeg oefen nie. Jy gaan nie dadelik goed wees in hokkie nie, maar dit sal kom met oefening.
Ja, ek kyk gereeld na hokkiewedstryde op die TV. Ek probeer ook gereeld om hul tegnieke na te boots.
My korttermyn doelwit is om in ‘n SA span ingesluit te word binne die volgende paar jaar.
Ek hanteer my verantwoordelikhede by hokkie saam met my sosiale en akademiese verantwoordelikhede deur ‘n skedule uit te werk en daarby te hou.
Ja, ek beplan om met hokkie voort te gaan na skool. Ek sal graag vir ‘n universiteitspan wil speel. My grootste enkele hoogtepunt die afgelope vyf jaar, was toe ek in 2021 ingesluit is in die Vrystaat Mans Hokkiespan.
My ander belangstelligs is fietsry en ek speel ook graag muurbal.
Die bekwaamhede waaroor ek as hokkiekaptein beskik, is dat ek stres goed kan hanteer. Ja, ek het al klein verskuiwings en voorstelle gemaak soos om spelers op ander posisies te speel. Oor die algemeen is dit belangrik om ons afrigter se plan te vertrou en so goed as moontlik uit te voer.
My rolmodel is Jamie Dwyer. Ek sal ook graam saam met hom wil koffie drink.
Wat my die meeste opgewonde maak, is die feit dat ek wonderlike mense in my lewe het.
Ek sal myself in een woord beskryf as hardwerkend.“
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto’s verskaf