Hokkie Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Goudveld se 1ste seuns hokkiespan kaptein, Bongi Khumalo. Bongi behaal die vierde doel in ons reeks oor Seuns Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Bongi, Op watter ouderdom het jy begin hokkie speel?
- Ek het eers op die ouderdom van 15 begin hokkie speel.
Hoekom hou jy van hokkie? Wat het jou laat besluit om hokkie te speel?
- Ek hou van hokkie omdat dit ‘n span-gebaseerde sport is waar spelers saamwerk om ‘n gemeenskaplike doel te bereik. Die samehorigheid en samewerking tussen spanlede is ‘n belangrike aspek van die sport wat ek waardeer. Hokkie bied ook ‘n unieke uitdaging vir spelers. Dit vereis ‘n goeie balans tussen tegniese vaardighede, taktiese intelligensie, en fisiese uithouvermoë. Dit bied ook ‘n geleentheid vir voortdurende groei en verbetering.
Wie is jou gunsteling professionele hokkiespeler? Hoekom?
- Jip Janssenn. Hy is ‘n ervare aanvallende Nederlandse Internasionale hokkiespeler. Jip lewer ‘n belangrike bydrae tot die sukses van die Nederlandse span en sy klub span Kampong wat in die Tulp Hoofdklass speel. Janssen is ook bekend vir sy tegniese vaardighede, kreatiwiteit op die veld, en vermoë om doelpunte te maak. Sy deelname aan internasionale toernooie en kompetisies het hom ‘n gewilde en gerespekteerde speler in die internasionale hokkiegemeenskap gemaak.
Bongi, watter posisie speel jy tans? Watter posisie/s het jy al gespeel?
- Ek speel tans “Center link/Forwards” maar ek het ook al “rightback” gespeel.
Wanneer was jy vir die eerste keer as kaptein verkies?
- Ek is hierdie jaar, 2024, vir die eerste keer as kaptein verkies.
Wat is, volgens jou, as Hokkie Kaptein, die grootste taak van die kaptein – op die veld en tydens oefening?
- My grootse taak as kaptein is om my span deur krisis-oomblikke kalm te hou. Dit gee my ‘n kans om ‘n plan van aksies te kan ontwikkel om die probleem aan te spreek. Sodoende kan ek goed kommunikeer met my spanmaats sowel as my afrigters om seker te maak dat ons ten alle tye ons strategie volg.
Oor watter bekwaamhede/ kwaliteite, dink jy, moet ‘n goeie hokkiespeler beskik?
- Goeie Kommunikasie
- Akkuraatheid
- Goeie balbeheer
- Kalmte op en van die veld af
- Respek
- Goeie intensietyd
Wat inspireer jou elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd?
- Die feit dat dit my laaste jaar van hokkie is om my skool te teenwoordig en my begeerte om te verbeter as ‘n speler en spanmaat.
In jou loopbaan tot nou – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asseblief uit.
- Ons wedstryde teen Hoërskool Jim Fouché waar ek en my span ‘n uitstekend wedstryd gehad het. Dit het my trots gemaak om te sien hoe ons almal verbeter het as ‘n span en individue. Wat die wedstryd die lekkerste gemaak het, was toe ek die eerste doel van ons Wesgrow Liga by ons “short corner” in die eerste twee minute van ons wedstryd kon aanteken.
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Wat het jy daaruit geleer?
- Hoërskool Goudveld teen Hoërskool Sasolburg. Ons het daaruit geleer dat ons houding as ‘n span moet verander as ons verbetering wil sien. Ook dat dit nie net oor ons gaan nie, maar ook ons skool, dat ons altyd moet onthou ons verteenwoordig ons skool as ‘n Eerste span.
Hoe hanteer jy druk tydens ‘n hokkiewedstryd?
- Ek laat my self dink dis ‘n oefen-wedstryd en dit help my baie om kalm te bly. Ek het dit ook gewoonlik gedoen voordat ek by ‘n byeenkoms hardloop. Ek voel dis baie effektief om dit te doen voordat jy speel.
Hoe motiveer jy as Hokkie Kaptein jou span?
- Nadat ons afrigters klaar met ons gepraat het, trek ek my span vir die laaste keer bymekaar om woorde van inspirasie te sê met die hulp van my Onderkaptein, Dillen Raydyn.
Wat is jou huidige top 5 prioriteite in die lewe?
- Om op my studies by die skool te fokus
- Om te verbeter as ‘n speler
- Familie
- Gesondheid
- Persoonlike groei
Het jy enige raad vir beginners in hokkie?
- Luister altyd na jou afrigter maar ook na jou eie “gut-feeling”.
Beplan jy om met hokkie voort te gaan na skool? Op watter vlak?
- Ja, ek wil graag by die Mans IPT speel en dis ‘n baie hoë vlak en intense hokkie.
Wat is jou grootste enkele hoogtepunt (sport of andersins) die afgelope vyf jaar?
- Toe ek vir die NFS o.18A span gekies is om by die IPT in Bloemfontein te speel.
Het jy enige ander stokperdjies/ belangstellings buiten hokkie?
- Ek hou daarvan om tennis te gaan speel saam met my vriend op Sondae.
Bongi, hoe sal jou afrigter en spanmaats jou beskryf?
- Hulle sal sê ek het visie vir die spel van die wedstryd. Ek behou kalmte oor die bal as ek hom het. Ek bring ook die gees in die span ek bemoedig die span met my “awesome playlist” al stry hulle met my.
Is daar enige afrigter of hokkiespeler na wie jy opsien as rolmodel?
- Jip Janssenn is my rolspeler.
Saam met watter professionele hokkiespeler sal jy graag wil koffie drink?
- Thierry Brinkman, Nederlandse Nasionale hokkiespeler.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf