Hokkie Kaptein. In ons gewilde reeks oor sportkapteins, gesels Schools That Rock vandag met Hoërskool Langenhoven, Riversdal, se kaptein van die 1ste seuns hokkiespan, Esteban D’Emiljo. Esteban behaal die sesde doel in ons reeks oor seuns Hokkie Kapteins van hoërskole in Suid-Afrika en Namibië.
Esteban, op watter ouderdom het jy begin hokkie speel?
- My eerste kennismaking met hokkie was in Graad 7 op dartienjarige ouderdom.
Hoekom hou jy van hokkie? Wat het jou laat besluit om hokkie te speel?
- Hokkie is ‘n lekker spansport met goeie spangees wat fiksheid en baie tegniek kombineer.
Watter posisie speel jy tans? Watter posisie/s het jy al gespeel?
- Ek speel tans “centre link” en het voorheen ook “centre back” gespeel.
Wanneer was jy vir die eerste keer as kaptein verkies?
- Hierdie jaar is die eerste keer wat ek as Hokkie Kaptein verkies is.
Wat is, volgens jou as Hokkie Kaptein, die grootste taak van die kaptein – op die veld en tydens oefening?
- Ek dink dis om die manne se moraal hoog te hou, hulle koppe in die “game” te kry en hulle saam die “game” te laat geniet – wen of verloor.
Oor watter bekwaamhede/ kwaliteite, dink jy, moet ‘n goeie hokkiespeler beskik?
- Uithouvermoë, spanwerk, vertroue in jou span en toegewydheid aan die sport. Jy moet ook sorg dat jy fiks bly en werk aan jou vaardighede. Om gemotiveerd te wees in ook baie belangrik.
Wat inspireer jou elke keer wanneer jy op die hokkieveld stap vir ‘n wedstryd?
- Die uitdaging om my opponent te uitoorlê. As Hokkie Kaptein inspireer die gevoel om te wen my ook. Ook om my beste te gee deur die ou voor my te wen. Laastens ook ongeag van wat die punte sê, my liefde vir die sport.
In jou hokkie-loopbaan tot nou – watter wedstryd was vir jou die lekkerste? Brei asseblief uit.
- Die Interskole in 2022 teen Hoërskool Montana, toe ons eerste span 2-1 gewen het. Goeie spanwerk en nog beter spangees het geheers. Die telling was 1 elk en Mnr Niewoudt het sy laaste woorde van die jaar gegee. Toe die span op die veld gaan het ons geweet ons gaan wen!
Watter wedstryd wil jy gou vergeet? Jou slegste wedstryd? Wat het jy daaruit geleer?
- Ons wedstryd vanjaar teen Hoërskool Punt. Ek het geleer dat jy mense kry wat hokkie speel en dan kry jy hokkiespelers. ‘n Hokkiespan is so suksesvol as sy hokkiespelers.
Esteban, hoe hanteer jy druk tydens ‘n hokkiewedstryd?
- “I smile in the face of my opponents” Ek kyk die opponent in die oë met my (hopenlik) intimiderende glimlag wat sê “Lyk dit of ons klaar is?”
Hoe motiveer jy as Hokkie Kaptein jou span?
- Deur die span in hulself te laat glo asook in hul eie vermoëns. Ek skel en preek nie, ek wys net waar hul kan verbeter en herinner hul hoekom hulle in die eerste span is en eindig met Amen.
Wat is jou huidige top 5 prioriteite in die lewe?
- Om alles tot eer van die Here te doen
- My eie geluk
- Ander se geluk
- Om ‘n verskil te maak
- Om getrou aan myself te bly, wie ek is en waarvoor ek staan.
Het jy enige raad vir beginners in hokkie?
- Speel die sport en oefen die sport. Net jy kan jouself verbeter in die sport. Moenie jouself terughou van die goeie hokkiespeler wat jy kan wees nie.
Beplan jy om met hokkie voort te gaan na skool? Op watter vlak?
- Nie noodwendig nie, ek sal dalk sosiaal speel indien die geleentheid hom voordoen.
Wat is jou grootste enkele hoogtepunt (sport of andersins) die afgelope vyf jaar?
- Om no.1 vir ‘n SA Plattelandse Muurbalspan te kon speel in 2023, tydens die IPT’s.
Het jy enige ander stokperdjies/ belangstellings buiten hokkie?
- Ek hou van oefen, trampolien spring, muurbal, tennis, rekenaarspeletjies en om tyd in die natuur te spandeer.
Hoe sal jou afrigter en spanmaats jou beskryf?
- Ek dink: gedetermineerd, snaaks, passievol en doelgerig.
Is daar enige afrigter of hokkiespeler na wie jy opsien as rolmodel?
- Mnr Niewoudt afrigter 2022-2023.
Saam met watter professionele hokkiespeler sal jy graag wil koffie drink?
- Luciana Paula Aymar, 46-jarige afgetrede Argentynse hokkiespeelster. Sy word as die beste hokkiespeler in die wêreld gesien. Sy’t al agt keer die FIH Player of the year award ontvang.
Meer skolenuus: https://schoolsthatrock.co.za
Foto verskaf