Elke sonstraal van die nuwe dag streel sagkuns oor sy kinders.
As ons die soet oggend lug proe weet ons verseker dat die dag sy eie stories vertel.
Hier by Hoërskool Witteberg in Bethlehem, waar elke kind sy regmatige plek in die samelewing kan ineem.
Die Witteberg-landskap is deurtrek met oomblikke en geleenthede waarna elke kind droom. Hier is dit vir ons belangrik om die paaie vir jou gelyk te maak, jou rigting te gee en jou op ons unieke manier voor te berei vir die onbekende.
Hier op kampus is ons geneig om hande vas te hou in beide die somers en winters van die lewe. Elke kind is besonders en ons het die innerlike wil om elke dag hierdie gawe te mag ontsluit en aan elkeen ‘n stem en denkwyse te bied wat die wêreld vandag nodig het. Ons akademiese standaard is ons trots en dit word elke jaar meer duidelik dat die samelewing weinig ander maatstawwe gebruik om leerders te meet vir verdere geleenthede. Dus is dit ons fokus om hierdie mandaat aan ons toegeken te alle tye te eerbiedig en te verseker. Hier sal u beleef dat ons programme se primêre fokus altyd sal berus op die tyd in die klaskamer en harde werk wat daar ingesit word.
Ons anker is ons geloof en ons maak geen geheim hiervan nie. Die Witteberg manier van dinge doen loop loodreg met morele waardes wat ons in jongmense wil sien. Eerbied, respek en integriteit word daagliks as herinnering in hierdie jeugland geklank om die beste in elkeen na vore te bring. Ons skuld dit aan mekaar.
Ja Witteberg is dankbaar om te mag presteer op vele terreine maar dit is allereens ons hartsbegeerte om te mag dien, wat ons horizon bly. Dit is dus nie altyd die belangrikste ding om te wen nie, maar die deelname wat veel meer werd is. Hierdie strewe word uitgeleef op vele gebied en danksy ‘n sterk span personeellede is ons leerders in die hande van mentors wat ‘n verskil wil maak.
Kom beleef dus hoe die Populiere van jou lewe kan groei. Kom deel in die denkwyse wat vooruitstrewend is, voluit en vir altyd… en kom ervaar die tipe rykdom wat slegs in harte voorkom.
Kom beleef die Witteberg-manier!
Hannes Oosthuizen
Waarnemende Skoolhoof