Narike en Jessi
Twee Uppie leerders het vanaf 29 Januarie tot 1 Februarie aan Saddle Seat South Africa Nasionale Ruiterkuns proewe te Riversdal in die Wes Kaap deelgeneem. Jessi Wessels, ‘n graad 12 leerder, en Narike Hoft, ‘n graad 10 leerder, was beide lede van die Noord Kaap Ruiterkunsspan. Jessi was in beide die Vyfgang-en Driegang spanne en Narike in die Driegang-span. Jessi was ook die kaptein van beide hierdie spanne. Beide leerders word afgerig deur Martin Pienaar van die Dream Acres Equestrian Centre in Bloemfontein.
Die 2020 Proewe was ekstra spesiaal aangesien 2020 ‘n Wêreldbeker jaar is. Die Senior Protea spanne neem deel aan die Wêreldbeker wat in Julie 2020 plaasvind in Parys. Daar sal kragte gemeet word met die VSA, Kanada en Namibië.
Ruiters van regoor Suid- Afrika het deelgeneem aan hierdie Protea proewe. Na die eerste 2 dae van die kompetisie is beide Jessi (Driegang en Vyfgang) en Narike (Driegang) deur na die finale groepe van 18 vir die finale beoordeling wat op Saterdag, 1 Februarie, plaasgevind het. Uit hierdie 18 ruiters word daar dan 6 gekies vir die Senior Protea span en 6 vir die Junior Protea Span.
Beide leerders het hul staal gewys op dag 3 en ten spyte van strawwe teenstand uit ander Provinsies, het altwee Uppies skitterend gery en hulself laat geld in hul onderskeie klasse en toetse.
Tydens ‘n spoggeleentheid, Saterdagaand, is beide van hulle as volg ingesluit in die onderskeie Protea spanne: Jessi Wessels word verkies tot beide die Senior Protea Ruiterkunsspanne in albei afdelings – Driegang en Vyfgang. Sy word in beide afdelings as die tweede beste ruiter in Suid-Afrika aangewys. Voorwaar geen geringe prestasie nie. Anje Dercksen van die Hoër Meisieskool Bloemhof was die nommer 1 ruiter in beide hierdie afdelings. Jessi gaan dus later vanjaar aan die Wêreldbeker kompetisie deelneem.
Narike Hoft is verkies tot die Junior Protea Driegang Ruiterkunsspan wat ook later vanjaar aan ‘n kompetisie gaan deelneem.
Uppies is ongelooflik trots op elkeen van hierdie leerders wat met groot toewyding en deursettingsvermoë hierdie pragtige sport beoefen. Beide Jessi en Narike se perde staan in Bloemfontein en moet daar baie opgeoffer word om hul sport te kan beoefen. Met hierdie prestasies sit Jessi en Nerike ‘n trotse tradisie van Ruiterkuns Ruiters in Hoërskool Upington voort.
Baie geluk!