Uppies het op Augustus hul eerste Besigheidskrieketdag gehou.
Ses spanne het ingeskryf: MTN, Sanlam, Upington Lions, Die Expendables, Toyota en die Onnies. Al die spanne het in ‘n rondomtalie formaat deelgeneem. Elke wedstryd het vir opwinding gesorg; of dit nou boulwerk, kolfwerk of veldwerk was.
Die viere en sesse is heeldag oor die velde geslaan en ‘n paar ruite was in gevaar om nie heel te wees aan die einde van die dag nie. Elke span het punte gekry vir ‘n wen en aan die einde van die dag is die punte opgetel om die top 4 spanne te bepaal.
Spelers is aangemoedig, asook sterk gekritiseer van die kant af, net om hul senuwees bietjie op die proef te stel. Die semi-finaal en finale wedstryde is onder ligte voltooi.
Toyota en MTN het in die eerste semi-finaal gespeel. MTN, wat die heeldag nog nie ‘n westryd verloor het nie, was verseker die gunstelinge, maar soos krieket werk, kan mens nie voorspellings maak nie. Jy gaan tien teen een verkeerd wees. Toyota wen die wedstryd en dring deur na die finaal.
Die tweede semi-finaal was tussen Sanlam en Upington Lions. Hier moes die Lions die knie buig voor die Sanlamspan. Sanlam en Toyota het mekaar aangevat in die naelbyter van ‘n finaal.
Met ondersteuning van vriende en familie wat lekker langs die veld gebraai het, wen Sanlam die dag.
Baie dankie aan almal wat die dag moontlik gemaak het.
Ons glo dit gaan ‘n instelling raak en meer spanne gaan in die toekoms inskryf.