Foto vlnr: Durand van Deventer, Nina Esterhuizen en Brendon van Rooyen
Die afgelope Saterdag het Hoërskool Strand ’n verdere drie toutrekkers vereer met spesiale keppies waarop “Toutrek Legend 30” staan.
Wat is ’n “Toutrek 30 Legende”? Dit is nié die trekker wat noodwendig die beste trek of die beste tegniek het nie, maar eerder die toutrek-atleet wat lojaal teenoor sy skool is, wat altyd betyds is, wat ’n voorbeeld vir ander stel en wat ook as mentor vir nuwelinge optree. In hierdie opsig is besluit om alle Toutrek-atlete wat aan 30 of meer kompetisies vir Hoërskool Strand deelgeneem het, te vereer met hierdie spesiale toekenning – dit kan slegs vermag word in ’n trekker se vierde jaar van deelname, wat hierdie keppie beslis moeilik maak om te kry. DIt dien as aansporing vir die jonger trekkers om lojaal teenoor hul skool en sport te wees en om aan te hou met toutrek as sport!
Hierdie eer het Durand van Deventer, Nina Esterhuizen en Brendon van Rooyen verlede Saterdag te beurt geval.
Met inisiatiewe soos die “Legende”-klub, uitstekende afrigting en die talle jonger leerders wat onlangs aangesluit het, sien Arend-toutrek daarna uit om jaarliks sterker en sterker te word en om in die toekoms ’n krag in SA-toutrek te word!