(Links) André Claassen van KFC en Nikita Nortjé en CJ Marais. (Middel) Ané Braasch, mees belowende 0/19 meisie. (Regs) Heinrich Rossouw, mees belowende 0/14 seun.
Die 2019-hokkieseisoen is op Dinsdagaand 17 September met die jaarlikse toekenningsfunksie in die skoolsaal afgesluit.
Nadat die onder 14-hokkiekapteins, Daniëlle Meyer en Heinrich Rossouw, geopen het, het Leani van der Merwe ‘n lywige jaarverslag voorgehou. Uit hierdie verslag was dit duidelik dat daar vele aktiwiteite op hokkiegebied deur spelers, afrigters en ouers aangepak is.
Twee gelukkige spelers, CJ Marais en Nikita Nortjé, is verras deurdat hulle die gelukkige wenners van twee geskenkbewyse van KFC was – ‘n lekker manier om die vakansie te begin.
Dit was ‘n aand waartydens verdienstelike spelers met toekennings vereer is – as beste voor-/agterspeler, meeste vordering en ook as die mees belowende speler van elke ouderdomsgroep. By die meisies was Cancice Dalton, Lecé van Wyk en Ané Braasch onderskeidelik die mees belowende spelers. Die seuns wat met hierdie toekenning beloon is, is Heinrich Rossouw, Martin McCarthy en Chris Langeveldt.
Die mees belowende doelwagter, was Adriaan Lambrechts, die doelwagter van die onder 18A-seunspan. Tara Venter is as die “Golden Striker” van 2019 aangewys, aangesien sy die meeste doele in ligawedstryde aangeteken het.
Die spanne van die jaar was vanjaar die onder 18B-seuns- en die onder 18A-meisiespan.
Anso Kemp het ook die geleentheid benut om die nuwe ondersteunerstoel aan die ouers bekend te stel.
Die Boland-spelers (Lecé van Wyk, Jadyn Engel, Nia Theron, Chris Langeveldt en Adriaan Lambrechts) en kapteins van die onder 18A-spanne (Dominique Carstens en Chris Langeveldt) het geraamde toekennings ontvang – iets mooi om hulle aan die jaar se prestasies te herinner.
Dit was weer eens ‘n aand waarop Hoërskool Strand kan trots wees – om soveel mooi prestasies in die teenwoordigheid van ‘n vol saal ouers te kon beloon.