Geagte ouers, personeel en leerders
Graag deel ek die volgende inligting met u wat betref die akademie van elke graad:
Graad 12
Om voltyds vir graad 12 onderrig te gee terwyl die graad verdeel is in ’n groep wat by die skool was en ’n groep, wat as gevolg van isolasie by die huis moes bly, was bykans onmoontlik. Daar was ook ’n groep wat by die huis moes bly as gevolg van Eie Haard koshuis wat vir ’n groot gedeelte van die week gesluit was. Dit het sake verder bemoeilik. Hoe die departement van mening was dat ons nog effektiewe onderrig kon gee, gaan my verstand te bowe. Ons kon seker maar voluit klas gegee het, maar dit sou vir seker ten koste van die leerders wees wat noodgedwonge by die huis moes bly. Iewers moes die personeel ’n middeweg vind, en het hulle in die klas, op Teams en ander sosiale netwerke wel onderrig gegee. Ek haal my hoed vir hulle af wat onder moeilike omstandighede wel met onderrig voortgegaan het.
Die graad 12 se Rekordeksamen begin DV op Maandag, 31 Augustus 2020. Hierdie eksamenrooster sal vroeg in Augustus 2020 aan ons ouers en leerders beskikbaar gestel word. Mnr. Jooste wag nog vir finale datums wat moes skuif as gevolg van vakke wat op die rooster gebots het.
In sake die Rekordeksamen, heg ek ’n tabel aan van hoe die graad 12-personeel hul vakke se vordering in hul onderskeie leerplanne sien. Van die vakke is reeds in die middae voltyds besig met ekstra klasse, en indien ons vasbrand met te veel onderrigtyd wat verlore gaan as gevolg van COVID-19, onderbrekings, ens. gaan ons tydens die Septembervakansie ook in sekere vakke moet werk. Meer duidelikheid sal nader aan die tyd aan u deurgegee word.
Die volgende vrae het personeel in hul betrokke vakke geantwoord:
Vraag 1: Totale % werk van leerplan reeds afgehandel.
Vraag 2: Totale weke benodig om leerplan te voltooi.
Vraag 3: Sal u gereed wees vir die Rekordeksamen in September?
Vraag 4: Wie stel u Rekordeksamen vraestel op?
Vak | Vraag 1 | Vraag 2 | Vraag 3 | Vraag 4 |
Afrikaans | 90% | 2 | Ja | Departementeel V1 Skool – V2 en V3 |
English | 69% | 6-8 | Ja | Departementeel – V1 Skool – V2 en V3 |
Wiskunde | 88% | 4 | Ja | Departementeel |
Wiskunde G | 100% | 0 | Ja | Departementeel |
Fisiese Wetenskappe | 65% | 6 | Ja | Departementeel |
Lewenswetenskappe | 85 – 90% | 6 | Ja | Departementeel |
Rekeningkunde | 85% | 5 | Ja | Departementeel |
Geografie | 98% | 1 | Ja | Departementeel/Skool |
Besigheidstudies | 90% | 2 | Ja | Departementeel |
IGO | 70% | 9 | Ja | Departementeel |
RTT | 100% | 0 | Ja | Departementeel |
Inligtingstegnologie | 95% | 3 | Ja | Departementeel |
Verbruikerstudies | 80% | 3 | Ja | Skool |
Ontwerp | 100% | 0 | Ja | Skool |
Graad 11
Die graad 11’s was hierdie week by die huis en is goed besig gehou deur middel van Teams en werk wat deur hul onderwysers aan die einde van verlede week aan hulle uitgedeel is.
Graad 10
Ons het Dinsdag, 21 Julie 2020, ons graad 10’s terug verwelkom nadat ons hulle op Woensdag, 20 Maart 2020, gegroet het. Die geesdrif en blydskap was sigbaar en die waarde van klasonderrig is net weer onderstreep. Die persoonlike verhouding en band tussen leerders en onderwysers is van kardinale belang en dit moet gekoester word. Die werksetiek en motivering wat tydens afstandonderrig afgeneem het, sal spoedig in die klaskamer herstel word.
Graad 8 en 9
Hierdie grade is nog volstoom op Teams, D6, SMS’e en WhatsApp werksaam. Die betrokkenheid van albei grade by hierdie sosiale netwerke, is bykans 85%. Dit is van kardinale belang dat leerders wat nie op hierdie platforms is nie, op datum moet bly deur by hulle klasmaats die werk te kry. Die departement verwag van ons om sekere formele assesserings/toetse gedurende September te voltooi, en moet alle leerders sekermaak wanneer hierdie assesseringstake ingehandig moet word. Julle promosies hang direk hiervan af.
Maandag, 27 Julie2020 tot Vrydag, 31 Julie 2020
Na deeglike oorweging met betrokke partye is daar besluit om volgende week ons leerders ’n ruskans te gun. Ons algemene gevoel is om ons personeel en leerders te beloon vir getroue en harde werk gedurende die afgelope weke. Dus sal daar in die komende week (27-31/7/2020) vir geen grade enige akademiese werk gestuur word nie. Wees vir seker dat ons dan weer DV op Maandag 3 Augustus 2020 voluit met al ons grade sal werk. Dankie vir almal wat positief bly en die bul by die horings pak wanneer dit nodig is. Lekker rus.
Akademiese dag- en weekrooster
Hierdie rooster wat vroeër aan u gestuur is, bly onveranderd. Dus bly die groepe, dae en weke nog net soos dit op die oorspronklike dokument is. Ons wil graag kontinuïteit, rustigheid en kalmte behou in ’n omgewing wat vinnig kan verander. Ons hoop en vertrou dat dit u sal help met u beplanning tot en met Desember 2020.
Afwesighede tydens toetse
Alle afwesighede moet soggens voor 9:00 aan die skool (siekeboeg) gerapporteer word. Leerders wat toetse en formele assesserings misloop as gevolg van ’n geldige rede, sal moet sekermaak dat hy/sy wel tydens die 2e-sitting die toets of assessering aflê. As ouer moet u asseblief verstaan dat dit juis tydens hierdie ontwrigte tye ’n baie moeilike proses is om te bestuur en daarom moet ons inval by hierdie toetsdatums. Die personeel het ook ’n verantwoordelikheid om hierdie datums vroegtydig en deeglik met al die leerders te kommunikeer.
Leerplanne
Weekbeplanning vir die komende weke en maande word deur alle vakonderwysers in alle grade aan leerders gestuur en moet nougeset nagevolg word. As gevolg van onsekerhede en talle onderbrekings sal hierdie beplannings telkemale onder druk kom en moet ons die uitdagings effektief en met die nodige begrip tot voordeel van ons leerders bestuur.
Kommunikasie
Ons wil dit net weer beklemtoon dat u as ouer en leerder nie moet skroom om kontak met u kind se betrokke vakonderwysers te maak nie. Enige navrae of onduidelikhede moet met die onderwysers gekommunikeer word. U is ook welkom om my enige tyd te kontak.
Algemeen
Dankie weereens vir u ondersteuning en begrip in ’n tyd waar talle besluite teen die agtergrond van onsekerhede, onstabiliteit en logika geneem is, en nie werklik sin gemaak het nie. In hierdie uitdagende tyd is dit belangrik om kop te hou en te fokus op daardie dinge waaroor ons volle beheer het en wat sal strek tot voordeel van ons leerders. Bly gesond en veilig. Alles wat mooi is.
Traliegroete
Mnr Neethling
Adjunkhoof