As ons aan mnr. Anton dink, dink ons aan die flukse man wat wanneer moontlik daagliks met sy fiets werk toe ry, ‘n fluitjie behoorlik op die rugbyveld kon blaas en altyd reg is om aan enige sport en pret deel te neem.
Hy is ook lief daarvoor om in die nag wanneer almal slaap, legkaart te bou. Meneer se passie vir die lewe is aansteeklik. Hy is ‘n waardegedrewe man, wie se liefde vir sy vrou en familie duidelik sigbaar is. Hy het ook die voorreg gehad om gedurende 2020 ‘n oupa van ‘n kleinseun te kon word. Sarge, ‘n onderwyser in murg en been, het diep spore in die onderwys getrap. Ons glo dit is vir hom ‘n voorreg om sy loopbaan in Bloemfontein by Sentraal te kan afsluit. Die insette, harde werk en baie tyd wat hy in baie skole ingeploeg het, word opreg waardeer. Dit is van onskatbare waarde en ons kan net hoop en vertrou dat sy werksetiek, positiewe gesindheid, geloof en humorsin deur ander wat hom gaan opvolg, voortgesit sal word.
Ons wense vir Meneer is dat die Here die nuwe hoofstuk in meneer en Lulu se lewens sal seën, en dat julle altyd met goeie herinneringe aan al die skole, leerders, kollegas en vriende sal terugdink.Om totsiens te sê is moeilik, maar gelukkig is dit nie vaarwel nie.
Sarge, ons groet jou!
Become a Sponsor








