Aan die begin van 2020 was die personeel van Hoërskool Punt gereed om weer die 2-jaarlikse personeel-melodrama op die planke te bring. Covid-19 het egter ook hierdie projek gekelder. Die personeel het besef dat hulle “out of the box” sal moet dink om hierdie fondsinsameling te red. Na deeglike beplanning het hulle besluit om wel die Melodrama aan te bied maar op ‘n “ander” manier. Die idee van musiek videos wat in die vorm van ‘n outyde fliek vertoon word, was die oplossing.
Mosselbaai-toerisme het ook erg onder die Covid-19 deurgeloop en Punt het besluit om ook hul deel te doen om die dorp te bemark. Hulle het die video opnames by plaaslike besighede, Hartenbos Seefront en die ATKV-Hartenbos gedoen sodat dit ook aan die besighede en instansies blootstelling kan gee. Dit is vir Hoërskool Punt baie belangrik om by hul plaaslike gemeenskap betrokke te wees sodat hulle kan hande vat en hul dorp bemark. Toerisme is ‘n groot inkomste vir Mosselbaai en die inwoners moet mekaar ondersteun om toeriste te lok.
Hoërskool Punt bedank al die besighede/instansies wat hulle toegelaat het om van hul fasiliteite gebruik te maak.
Trots Punt – Proudly Mossel Bay!
Foto’s deur Boshoff Photography