Hoërskool Oudtshoorn. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Reece Wheeler, Hoofseun vir 2022 van Hoërskool Oudtshoorn.
Reece, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Oudtshoorn?
Ek weet dat ek ‘n baie belangrike rol as hoofseun van Struisies speel. Verder sien ek dit as ‘n geleentheid om by ander te leer sowel as om ander oor leierskap te leer. Ek wil graag Struisies vorentoe vat en verbeter soos wat die jaar aangaan.
Hoe het die afgelope vier jaar by Struisies jou vir die rol as leier voorberei?
Ek was bevoorreg om vir die afgelope vier jaar op ons skool se VRL te dien, so dit het my redelik goed voorberei om hierdie posisie te beklee.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek kyk op na ons Matriekraad se voogonderwyser, juffrou Danelle Stander, vir haar mentorskap. Met baie probleme en angs het ek al na haar toe gegaan en sy het my deur daardie moeilike tye gehelp. Ek kyk ook natuurlik op na ons skoolhoof, meneer Rudolph, wat ons skool so mooi lei.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek wil graag my Honneurs by Stellenbosch in Beleggingsbestuur doen.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Dis redelik moeilik om slegs een ding uit te lig, maar ek dink die onderwysers is definitief die een ding wat die meeste uitstaan. Die onderwysers van Struisies doen verskriklik baie moeite om ons kinders te help as ons sukkel. Een van die dinge wat ook baie by Struisies uitstaan, is natuurlik ons skool se trots. Elke Struisie is ‘n trotse Struisie.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Nee, nie almal is gemaak om aan sport deel te neem nie. Ek dink eerder mense moet die keuse gegee word om aan sport- of ‘n kultuuraktiwiteit deel te neem.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Ek het dit ontsettend geniet om in ‘n skool te wees waar ek opgewonde is om elke oggend skool toe te gaan. Die gevoel dat jy iewers behoort en gelukkig daar sal wees, kan ‘n mens beslis nie koop nie.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Ek wil graag hê dat ons dié wat jonger as ons is op ‘n positiewe manier beïnvloed en lei sodat hulle eendag dieselfde kan doen.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Elke oggend wanneer ek by die skool instap, moet ek en ons hoofmeisie, Annalize, die vlae hys. Een landsvlag en een Struisie-vlag. Wanneer ek daardie vlae in die lug sien wapper, kry ek ‘n ongelooflike trotsgevoel in my hart wat my motiveer om elke dag my beste te doen.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van die Struisies te word?
Dis maklik om te sê dat jou skool die beste is en dis hoekom kinders daarnatoe moet kom, maar by Struisies is dit anders. Ek voel dat Strusies regtigwaar enige leerder kan akkommodeer. Struisies se onderwysers sal tot die einde van die aarde gaan om jou te help en ons sportafrigters sal beslis dieselfde doen.
Wat is jou toekoms-ideale?
Ek wil graag hê dat Struisies se sport weer kom waar dit voor die pandemie was.
Foto verskaf
Lees meer oor skole: