Die NHS-Sportburo het dit goed gedink om met ‘n reeks virtuele kompetisies, wedlope en bergfietswedrenne te begin om sodoende NHS-leerlinge en ander belangstellendes weer fisies aan die gang te kry.
As gevolg van wetgewing, gepubliseer deur die Minister van Onderwys, mag daar tans geen sport op skoolterreine aangebied word nie. Hierdie wetgewing word deur NHS en NHS-Sportburo eerbiedig.
Die Minister van Sport het wel gesê dat professionele sportmanne in sekere sportsoorte mag begin oefen, maar a.g.v. die uitspraak van die Minister van Onderwys mag geen sport op NHS se sportvelde plaasvind nie. Daar is uit alle oorde pogings aangewend om toestemming by provinsiale en nasionale federasies te verkry, om sodoende wettig te oefen by NHS. Die meeste van hierdie versoeke was onsuksesvol en sal alle reëls en regulasies soos uiteengesit deur die regering geduldig gevolg moet word. Tennis Suid-Afrika het wel toestemming gegee dat professionele afrigters wat onder hulle geaffilieer is, mag afrig. Atletiek en krieket wag vir goedkeuring vanaf hulle federasies.
As gevolg van die inperkingsreëls wat tans van toepassings is, kan NHS-sportburo ongelukkig nie op hierdie stadium leiding gee oor wanneer georganiseerde skolesport weer hervat sal mag word nie. Alle wintersport-toernooie vir 2020 is gekanselleer en ons sportmanne en -vroue kan vir tot 9 maande (dus tot einde Desember) onaktief wees indien hulle nie daadwerklik begin oefen nie. Atletiek, landloop, bergfiets, tennis en gholf wag om voort te gaan sodra inperkingsreëls verander, aangesien sekere ligas, nasionale byeenkomste en toernooie nie gekanselleer is nie.
Oefening is ’n uitlaatklep om ontslae te raak van frustrasie en spanning as gevolg van die inperking en die druk wat daarmee saamgaan. Die ou spreekwoord van ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees is beslis van toepassing aangesien oefening fisiologies en psigologies bydra tot ‘n positiewe gemoed en denke as gevolg van endorfiene wat afgeskei word wanneer daar geoefen word.
Doelgerigte oefening skep ook die verwagting dat daar iets is om na uit te sien vir die dag. Die sosialiseringsaspek van ek-oefen-nie-alleen-nie het ook ‘n positiewe bydrae tot die gemoed. Om deel van ‘n georganiseerde, virtuele spankompetisie, wedloop of span te wees, gee ‘n mens ‘n definitiewe doelwit om voor te werk en kinders en ouers kry ook die geleentheid om uit die huis te kom, alles binne vlak 3-inperkingsreëls.
Met bogenoemde in gedagte het NHS-Sportburo dit goed gedink om met ‘n reeks virtuele kompetisies, wedlope en bergfietswedrenne te begin om sodoende NHS-leerlinge weer fisies aan die gang te kry. Die doel hiermee is om aan alle leerlinge die geleentheid te gee om hul algemene fiksheidsvlakke te verhoog. Wanneer daar dan weer amptelik met skolesport begin word, sal leerders op ‘n hoër fiksheidsvlak wees as wat tans die geval is. Almal wat betrokke is by NHS kan uit die fisiologiese en psigologiese voordele wat met oefening gepaard gaan, voordeel trek. Navorsing het bewys dat een maal ‘n week se oefening genoeg is om huidige fiksheidsvlakke in stand te hou. Met twee of meer dae se oefening per week word daar ‘n toename in fiksheid/vaardigheidsvlakke gesien, dus het dit ook ten doel om seker te maak dat NHS-sportlui ‘n tree vorentoe gee en nie drie of meer treë agteruit nie.
Oefenprogramme vir verskillende vlakke van fiksheid asook kompetisiedatums en die reëls van die verskillende kompetisies sal met behulp van sosiale media gestuur word. Kompetisies, byeenkomste of wedrenne sal uit individuele- sowel as spankompetisies bestaan. Al wat leerlinge nodig het om deel van hierdie kompetisies, wedlope of wedrenne te wees, is oefenklere, ‘n selfoon, tekkies en/of ‘n fiets.
Volgens vlak 3-inperkingsreëls mag daar van 06:00 tot 18:00 geoefen word. Daar kan dus fiets gery, gedraf of gehardloop word en selfs oefeninge in en om die huis kan gedoen word met die bonus dat alles binne die reëls van die huidige staat van inperking is.
Meer inligting volg binnekort! Word deel van NELLIES ACTIVE!