Sewe medaljes, en ses nuwe rekords vir NHS-atlete by SA-skolekampioenskappe
Die deurdringende reën en gure weer ten spyt, het Hoërskool Nelspruit se atlete in Mpumalanga se skolespan na vanjaar se nasionale kampioenskappe (Potchefstroom, 22-24 Maart 2018), vriend en vyand verras deur meer as ‘n halfdosyn medaljes in die geselskap van Suid-Afrika se beste skole-atlete, te verower. In die proses is ‘n hele aantal Nellie-rekords verbeter, en nuwe pb’s was aan die orde van die dag.
Van Reenen Kruger (s.15, 300m hekkies), Douw Kruger (s.17, gewigstoot), Ruan Labuschagné (s.19, 4x400m aflos) en Tertius Mentz (ook s.19, 4x400m aflos) spog elk met silwermedaljes, terwyl Ruan Labuschagné (400m hekkies), Ilke Joubert (m.19, gewigstoot) en Rhodé Nel (m.15, 4x100m aflos) almal brons verwerf het.
Wat NHS-rekords betref (beste in die skool se bestaan van 65 jaar), moet die langer hekkies-items vir seuns (300m en 400m) veral uitgesonder word. By nasionale kampioenskappe word slegs in die ouderdomsgroepe s.15 (onder16), s.17 (onder 18) en s.19 (onder 20) deelgeneem – en in al drie, het die Nellie-rekords gespat!
Om die atlete se prag-prestasies in perspektief te plaas, moet elk van genoemde drie groepe se uitslae, in meer besonderhede beskou word. NHS se beste vertonings, was soos volg:
Meisies 15 (onder 16)
RHODé NEL: 4x100m aflos – 49.28 sek. (SILWER). Sy het ook die finaal in die 200m en 400m gehaal, met uitstekende tye van 24.95 sek. en 57.92 sek. (eindig 6e)
JANA ENGELBRECHT: 100m – eindig 4e in haar uitdun, in ‘n tyd van 12.30 sek. (verbeter Suzaan Nel se rekord wat op 12.42 sek. gestaan het). In die finaal, was Jana se tyd 12.80 sek.
SHANA SCOTT: skyfwerp – behaal ‘n 6e plek, met ‘n nuwe Nellie-rekord van 36,54m (vorige rekord: 35,88m). Sy het ook aan hamergooi deelgeneem, waar haar afstand van 31,44m, net 3cm duskant haar Nellie-rekord was.
NICCI VILJOEN: eindig 5e in haar uitdun van die 300m hekkies (46.59 sek.)
Meisies 17 (onder 18)
JESSICA BERRY: teken ‘n goeie tyd van 5:03.31 in die 1500m aan.
MEGAN NEL: driesprong – 10,51m
Meisies 19 (onder 20)
ILKE JOUBERT : gewigstoot – 12,83m ( BRONS). ‘n Uitstekende afstand, wat haar eie rekord van 12,60m (vanjaar, by die Laeveld-interhoër) met 23cm verbeter. Dit plaas haar onder die top 10 gewigstoters in die land (seniors).
MARNé VAN AARDE: in twee eindrondes, nl. skyfwerp (34,82m – 7e) en spiesgooi (33,09m, ook 7e).
THEMBI COSSA: eindig 3e in haar uitdun vir die 800m (2:21.28). Eindig 8e in die finaal (2:25)
LINMARI POTGIETER: behaal ‘n 6e plek in die hoogspring (1,60m)
Seuns 15 (onder 16)
VAN REENEN KRUGER: verower ‘n tweedeplek in die finaal van die 300m hekkies (SILWER), verbeter sy eie Nellie-rekord van 39.16 sek. (Secunda) na ‘n skitterende 38.82 sek.! Hy was ook 5e in die 100m hekkies-finaal, met ‘n tyd van 13.38 sek.
LUTHANDO MABUZA: kwalifiseer vir die 800m-finaal, eindig 4e in sy uitdun (2:04.96)
Seuns 17 (onder 18)
DOUW KRUGER: Alhoewel hy vanjaar nog onder 16 is, eindig hy tweede in gewigstoot (SILWER) met ‘n puik persoonlike beste afstand van 17,14m – ‘n volle 1.13m verder as die afstand waarmee hy vanjaar by die Laeveld-interhoër gewen het!
DEVON NELL: Eindig 5e in die 400m hekkies, word die eerste NHS-atleet in die geskiedenis wat die item onder 54 sek. kon voltooi. Nuwe, uitstekende NHS-rekord van 53.83 sek.
JAYTEE BOERS: Na ‘n baie goeie 1:55.49 in die uitdun (eindig 2e), teken Jaytee ‘n nuwe pb van 1:54.34 in die eindronde aan, en mis net-net ‘n bronsmedalje (was 4e).
AUBREY VAN DER BANK: eindig 8e in die spiesgooi-finaal (55,20m).
Seuns 19 (onder 20)
RUAN LABUSCHAGNé: Ruan spog met TWEE medaljes: hy verower SILWER in die 4x400m aflos, en BRONS in die 400m hekkies. Voor die byeenkoms, was sy Nellie-rekord (400m hekkies) die 53.17 sek. wat hy vroeër vanjaar opgestel het. Ruan verskuif grense deur die eerste sub-53 sek. in die skool se geskiedenis (in enige 400m hekkies-item) te haal. Na ‘n uitstekende 52.70 sek. (wen sy uitdun), eindig hy algeheel derde (BRONS) in ‘n uitmuntende 52.33sek.!
TERTIUS MENTZ: Hy was (soos Ruan) ook lid van die 4x400m aflosspan, wat SILWER vir Mpumalanga ingepalm het. In die uitdunne van die 800m, het Tertius ‘n goeie 1:56.15 aangeteken.
Baie geluk aan al die provinsiale atlete en hul bekwame en begeesterde afrigters! Alle sterkte vir die tweede van vanjaar se nasionale byeenkomste, nl. die ASA Jeug- en Juniorkampioenskappe wat oor ‘n week plaasvind.