Op 31 Augustus 2017 het Hoërskool Nelspruit se kultuurleerders weereens bewys dat kultuur beslis nie die knie hoef te buig voor topklas akademie en sport van dié vooraanstaande skool nie.
Tydens die jaarlikse kultuurspogaand wat in die amfiteater by die splinternuwe kultuursentrum gehou is, het die verskillende kultuuraktiwiteite gespog met die leerders wat die beste presteer het. Hierdie aand was die afsluiting van die NHS-kultuurweek. Die NHS-koor het onder leiding van juffrou Elet Kruger die aand op ‘n gepaste wyse met Karl Benzing se Ukuthula, ‘n Zoeloe-gebed, begin.
Die twee nuwe kultuurleiers, Gert Loubser en Janke Visser, het hul goed van hul taak as seremoniemeesters gekwyt. Sangers, Christoph Mans, Jessica Berry, Mariska Taljaard, Omphile Mhlongo en Terese Vorster, het liedjies waarmee hulle onlangs tydens die Nelspruit eisteddfodd en die Nellies The Voice kompetisie uitgeblink het, gesing. Tylo Roux en Karina Oosthuizen is bedank vir afdrukke van hul kuns wat pryk op die programme van onderskeidelik die spogaand en die inwyding van die kultuursentrum. Die fotografieklub se uitstalling van die jaar se mooiste foto’s was beslis iets om te bewonder.
Liesl Hartley en Strelza van Aardt het met hulle klaviersolo’s gewys dat hulle beslis mee gespog kan word. DJ van Wyk, begelei deur Tobias Kruger, se kragtige vioolspel was ‘n fees vir almal se ore.
Eben Bothma het sy opstel, Ek het my lewe teruggekry , waarvoor hy verlede jaar ‘n goue medalje by die FAK skryfkompetisie ontvang het, voorgelees. Tayla Kotzee se voorlesing van haar opstel, The Thing that scares me the most, het bewys dat die Nellies dorings met die penne is.
Die uiters vermaaklike voorlesing deur Danté van der Westhuizen, die skreeusnaakse drama van sy ouboet, Theo van der Westhuizen en Milda van Dyk se Hare van Jeanne Goosen het getoon dat daar beslis talentvolle dramakinders is. Sumari Janse van Rensburg het haar ongedramatiseerde gedig waarvoor sy ‘n prestige toekenning by die plaaslike eisteddfod gekry het, voorgedra. Megan Maree is vir haar dramaprestasies van 2017 geprys.
Die redenaars en debatspanne wat vanjaar kultuurkoning gekraai het met prestasies tot op nasionale vlak is ook mee gespog. Vier Nellies, Wehan Viljoen, Gerhard van der Merwe, Ernst Pieterse en Milda van Dyk het aan die ATKV redenaars se finale ronde in Goudini deelgeneem en nuweling Ernst Pieterse eindig nasionaal vierde in die junior onvoorbereide afdeling. Een senior debatspan, Wehan Viljoen en Gerhard van der Merwe en een junior debatspan, Danté van der Westhuizen, Aniska Breedt en Jean van der Merwe het ook aan die nasionale ronde deelgeneem. Die juniors eindig sesde in die land en Wehan Viljoen het die taalprys vir die beste Taalgebruik in die senior kompetisie ontvang. Wehan het in sy toespraak verwys na die sewe debatspanne wat vanjaar opslae gemaak het tydens die Mpumalanga, Limpopo en KwaZulu-Natal ronde. Een junior en een senior span eindig eerste in dié semifinaal. Gerhard van der Merwe het met sy redenaarstoespraak, ‘n Man se ego moet gestreel word, bewys hoekom hy tot in die finale ronde deurgedring het. Die hoogtepunt van die jaar was beslis die NHS senior debatspan, Wehan Viljoen, Josua Mathee en Gerhard van der Merwe wat vir ‘n opskudding gesorg het toe hulle as Laeveldse buiteperde die Noordstreek se Dink of Sink onvoorbereide debatskompetisie gewen het. Hulle is sterkte vir hul nasionale ronde teen Dr. DF Malan en C&N Meisieskool Oranje op 23 September toegewens.
Amenda Bunting in graad 8 wat ‘n eerste plek in die Engelse redenaarskompetisie behaal het, het haar toespraak Parents are the achilles hill of their children, gelewer.
Die spogaand is afgelsuit met spoggerige eetgoedjies uit die Nellies se eie hotelskool onder leiding van juffrou Erna Janse van Rensburg.