Hoërskool Linden. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Franco Vosloo, Hoofseun van Hoërskool Linden in Randburg vir 2022.
Franco, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Linden
As Hoofleier dink ek `n mens se eerste prioritiet moet altyd die leerders wees. Jy moet poog om te alle tye hulle belange te bevorder, selfs al gaan hulle nie altyd insien dat wat jy doen tot hul voordeel strek nie. `n Hoofleier moet ook altyd bereid wees om te help waar daar ookal hulp benodig word. Hulle daag altyd eerste op en verdaag weer laaste tydens enige geleentheid.
Hoe het die afgelope vier jaar by Linden jou vir die rol as leier voorberei?
Die afgelope 4 jaar by Hoërskool Linden het my as mens so baie laat ontwikkel deur geleenthede te skep waar ek kanse kon vat, misluk (en weer opstaan), my horisonne kon verbreed en `n beter verstaan van myself kon ontwikkel. Hierdie kennis van wie ek is en die lesse wat ek deur die jare geleer het, het as ongelooflike voorbereiding gedien vir my rol as hoofleier – selfs al het die Graad 8-ek dit nooit besef nie.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
Ek het die voorreg om ongelooflike onderwysers te hê wat as uitstekende leierskapmentors dien, maar ook vele ander aspekte van die lewe. Hulle speel `n reuse rol daarin om my gemotiveerd te hou. Hulle herninner my ook aan wat regtig belangrik is in die lewe. My ouers speel ook `n kardinale rol in hierdie reis as hoofleier. Sonder hulle ondersteuning sou dit nie moontlik gewees het nie.
Watter studieriging beoog jy na skool?
Ek wil graag medies gaan studeer na skool met die doel om te spesialieer in pediatrie of dalk traumachirurgie.
Wat staan vir jou die meeste uit by jou skool?
Die energie en passie wat die leerders vir ons skool het is vir my `n hoogtepunt. Een van die beste ervarings van my Hoërskoollopbaan tot dusver is om die skool te verteenwoordig op enige vlak.Ek wil ook ander leerders ondersteun wanneer dit hulle beurt is.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ek is vas oortuig dat elke leerder elke dag êrens iets aktief moet doen ter wille van hul fisiese en emosionele welstand. Ek dink egter nie dat leerders verplig moet word om aan sport deel te neem nie. Tieners is geneig om dadelik meer teenstand teen enige iets te bied die oomblik wat jy dit verpligtend maak.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
Tot vandag toe bly die Inlindeneringsproses van 2018 my hoogtepunt. Die vriendskappe wat ons in daardie eerste drie weke gesmee het terwyl ons almal saam ons name HARD met `n plank geslaan het sal vir `n leeftyd hou.
Wat is jou doelwitte vir jou dienstermyn?
Ek wil `n kultuur skep waar elke leerder vrywilliglik aan ten minste een skoolgebaseerde buitemuurse aktiwiteit deelneem hetsy dit op sport of kulturevlak is. Verder wil ons as Matriekraad vir die res van die skool wys wat dit werklik beteken om `n Lindeniet te wees. Hulle op so baie uitgemis as gevolg van die Covid-19 pandemie die afgelope twee jaar.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Intrensieke motivering is vir my baie belangrik. Ek sal altyd my doelwitte so stel dat dit strook met my persoonlike waardes en passies in die lewe. Wanneer ek regtig in iets glo sal daar altyd `n manier sal wees om dit te bewerkstellig. Ek wil ook seker maak dat ek my talente en sterkpunte ten volle benut sodat ons as `n Matriekraad optimaal funksioneer deur mekaar se swakpunte aan te vul.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van die Lindeniete te word?
Ons slagspreek “meer as net `n skool…” is werklik veel meer as net `n slagspreuk. Dit is wie ons is. Hoërskool Linden is `n tuiste, `n familie en `n skatkis vol geleenthede. By Hoërskool Linden word jy gevorm tot `n mens wat weet dat jy enige iets kan vermag as jy VOLHARD tot die einde toe!
Wat is jou toekoms-ideale?
Graag sal ek `n toekoms wil hê waar ek omring word deur vriende en familie wat my lief het en ondersteun. Ek sien myself in `n beroep waar ek daagliks `n verskil kan maak in ander mense se lewens en daarna sal strewe om soveel as moontlik van myself aan ander te gee. Eendag wil ek kan terug kyk na `n jonger ek en nie spyt wees oor enige iets nie omdat ek weet dat ek alles tot die beste van my vermoë aangepak het.
Foto verskaf
Lees meer oor skole in Suid-Afrika: