Hoërskool Ligbron in Ermelo se herwinningsprojek het vir groot opgewondenheid gesorg. ‘n Kompetisie vir die registerklasse wat die meeste proppies, plastiek en blikkies skool toe bring, is die begin van die jaar geloods. Penny’s Recycle and Waste Centre saam met Ola het die eerste kwartaal vir twee klasse roomyse geborg, wat Woensdagoggend, 11 April, uitgedeel is. ‘n Anonieme borg het vir die klas wat die meeste proppies insamel, ‘n roomyskoek geborg. Die wenklasse was gr 12E, 10A en 8O.
Ligbron is ‘n waardegedrewe skool wat glo dat ons die verantwoordelikheid het om die skeppingsopdrag te gehoorsaam. Ons weet almal van die enorme probleme veroorsaak deur besoedeling. Deur te herwin, beskerm ons lewensnoodsaaklike hulpbronne soos water, bome, grondstowwe, voedsel en nog vele ander. Omtrent 24 bome is nodig om een ton papier te vervaardig. Een blikkie wat herwin word, spaar genoeg energie om vir 3 ure TV te kyk.
Ons skenk die plastiekproppies vir Young People Care, wat dit na ‘n aanleg vat wat dit verwerk in potplanthouers. Vir elke 450kg proppies wat hulle ontvang, skenk hulle ‘n rolstoel. Penny’s kom laai elke Woensdag die plastiek, papier, glas en blik wat skool toe gebring is, op.
Ons nooi die hele gemeenskap om deel te neem aan hierdie inisiatief, aangesien elke persoon deur besoedeling geraak word. U is welkom om u plastiekbottels, broodbinders, plastiekdoppies, papier en glas by Ligbron te kom aflaai en u deel vir die omgewing te doen. Elkeen kan ‘n verskil maak.