Hier verskyn die vier eerstespan kapteine, saam met mnr. Piet de Villiers, (skoolhoof).
Vlnr: Adunaike Herling, Peter-Jame Wait, Rochelle Van Niekerk en Sean Stroebel.
Hoërskool Langenhoven, Riversdal, het op Donderdag, 3 Oktober, hul jaarlikse sportdinee in die skoolsaal gehou.
Dit was ‘n prag-aand waar daar aan die skool se sportmanne en –vroue erkenning gegee is. ‘n Heerlike driegang-maaltyd is bedien en die saal is pragtig versier.
Daar is verskeie toekennings oorhandig aan kapteine van die eerstespanne – netbal: Adunaike Herling; hokkie: Rochelle van Niekerk; seunshokkie: Peter-Jame Wait en rugby: Sean Stroebel. Die interskole-trofee is ook aan die kapteine oorhandig, wat vir die agste jaar in ‘n ry in Dasseland bly.
Lyle-Clint Fielies, het die Abrie Diener Trofee ontvang vir twaalf drieë gedruk, waarvan vier tuis is.
Spesiale toekennings is aan die volgende leerders gemaak: Iné Lourens (opgeneem in O/18 SA-netbalgroep), Carla Conradie (in Proteaspan opgeneem vir Ruiterkuns) en Tinka Fox en Marlé van Wyk (opgeneem in SA Paralimiese Atletiekspan).
In rugby, netbal, dogters-hokkie en seuns-hokkie, was die eerstespanne, die wenners vir die span met die beste gees. Die spanne met die beste wengemiddeldes was die O/14B-netbalspan, die O/16B-hokkiespan, die O/18A-seuns-hokkiespan en die tweede rugbyspan. Die eerste netbalspan is as die beste eerstespan vir 2019 aangewys.
Volgens Mnr. Piet de Villiers (skoolhoof), was dit ‘n uiters suksesvolle sportjaar met baie mooi prestasies.