Hoërskool Hoopstad. Dit is vir Schools That Rock ‘n voorreg om ‘n paar vrae te vra aan Fanie Brink, Hoofseun van Hoërskool Hoopstad, vir 2022.
Fanie, hoe sien jy jou rol as hoofleier van Hoërskool Hoopstad?
Ek dink my belangrikste rol as hoofleier van Hoërskool Hoopstad is invloed. Met my voorbeeld wil ek graag my mede-skoliere positief beïnvloed en met integriteit lei. Ek is wie ek is, maak nie saak waar ek is of by wie ek is nie. Ek sal graag wil sien dat my lojaliteit, opregtheid van vaste beginsels aan my mede-skoliere afsmeer, want met hierdie eienskappe bou ons ‘n skool met karakter.
Hoe het die afgelope 4 jaar by Hoërskool Hoopstad jou vir die rol as leier voorberei?
“Leierskap ontwikkel daagliks, nie in ‘n dag nie.”
Leierskap het baie fasette, soos respek, ervaring, emosionele krag, mensevaardighede en dissipline. Gedurende die afgelope 4 jaar by Hoërskool Hoopstad was ek in die klaskamer en op die sportveld blootgestel aan hierdie fasette. Hierdie eienskappe ontwikkel net met blootstelling, daarom is dit baie belangrik om betrokke te wees by soveel as moontlik verskillende aktiwiteite wat die skool aanbied. Ook daardie aktiwiteite buite my gemaksone het vorm gegee aan my leierskap. Ek het tydens my jaar op die redaksie net soveel van leierskap geleer as tydens enige sport wedstryde waaraan ek deelgeneem het. Ek weet dat 2022 ‘n baie belangrike jaar vir my vorming as leier sal wees. Leiers is leerders en die leerproses hou nooit op nie.
Na wie sien jy op vir inspirasie of mentorskap?
My pa, natuurlik! Voor die eerste vink se fluit is hy al aan die gang en hy is laat-aand nog besig om homself op hoogte te hou met die nuutste boerdery praktyke. My pa is lief vir die Here met sy hele hart en vir sy naaste, dis nou my ma en ons kinders. My pa het respek vir ons, hy gee net soveel lof as liefdevolle dissipline. Hy maak tyd vir ons en dra ons belange op die hart. My pa is my mentor.
Watter studieriging beoog jy na skool?
BSc (Agric) met Grondkunde en agronomie by PUKKE.
Wat staan vir jou die meeste uit by Hoopies?
STAAN PAL – onwrikbaar of onbeweeglik of vasstaande. Dit is die woorde wat Hoopies beskryf. In goeie tye en in slegte tye staan Hoopies saam, staan Hoopies vas en staan Hoopies pal.
Dink jy dat deelname aan sport verpligtend moet wees in skole?
Ja, vir seker. Julle weet, die lewe is nie altyd regverdig nie en so ook nie die skeidsregter se beslissing nie. Spansport plaas die kwessie van wen en verloor in perspektief. Dit het my lank gevat, maar ek het geleer dat ‘n mens nie altyd kan wen nie, maar deur teleurstelling te verwerk en positief daarop te reageer, het ek emosioneel gegroei. Ek het geleer om harder te werk, te volhard en ook om geduldig te wees. Die heel belangrikste is om elke oefening of wedstyd as ‘n leergeleentheid te beskou en terselfdertyd sport te geniet. Sonder sport sal daar ‘n leemte in my opvoeding wees.
Wat het jy die meeste geniet tydens jou skoolloopbaan?
As graad eentjie het ek al daarvan gedroom om vir Hoopies se eerste rugbyspan te speel. Die eerste keer toe ek die eerstespan-trui oor my kop trek en ons daardie hartroerende kreet uit volle bors kon sing, was en bly dit vir my die grootste genot van my skoolloopbaan. Dit was hoendervleis lekker!
Wat is jou doelwitte vir Hoopies tydens jou dienstermyn?
Soos wat ek tydens ons prysuitdelingsfunksie gesê het: Ek sal graag wil sien dat 2022 ‘n omgee jaar sal wees, ‘n jaar gebou op Christelike waardes, ‘n jaar waarin ons mekaar tot nuwe hoogtes sal aanspoor, ‘n jaar waarin elke Hoopie opnuut weer sal blom en ‘n jaar wat ons vir altyd sal onthou.
Wat motiveer jou om jou ideale te bereik?
Passie. As jy passie het vir iets, beteken dit dat jy nie omgee om baie tyd en moeite daaraan te spandeer nie. Ek vind my dryfkrag in my passie vir iets en wanneer ek passievol is oor iets behaal ek sukses.
Hoekom sou jy leerders aanraai om ook deel van Hoopies te word?
Soos wat mnr Visser gesê het: “ As jy nie terug verlang skool toe nie, was jy in die verkeerde skool. Ek verlang naweke alreeds terug skool toe! Vra maar oral waar jy gaan, Hoopies is uitblinkers op alle gebiede, daar is geen twyfel aan nie. Hoekom sal ek leerders aanraai om deel van Hoërskool Hoopstad te wees? Want dit is LEKKER om ‘n Hoopie te wees!
Wat is jou toekoms-ideale?
Om my beste self te wees wat ek kan wees. Ek wil net wees dit wat God my lank-lank gelede al beplan het om te wees, daarom is my enigste toekoms-ideaal om God se wil in my lewe te soek en te doen. Aan Hom al die eer.
Foto verskaf
Lees meer oor Hoërskool Hoopstad:
http://hoerskoolhoopstad.co.za/
Become a Sponsor








