Op Sondag, 14 Junie was die 99-jaar viering van die Comrades is hierdie jaar vervang deur die “Race the Comrades Legends 5 in 1”-virtuele wedloop. Hier kon die atlete kies tussen vyf afstande wat hul op hul eie tyd en in ‘n selfgekose gebied kon aflê. Na die wedloop moes die atlete hul gegewe tyd en afstand (verkry deur ‘n toepassing op die selfoon en slim-horlosie) op ‘n webtuiste inlees. Die keuses vir die afstande: tussen 5km, 10km, 21km, 45km of 90km.
Vier onderwysers en een leerder van Hoërskool Ermelo het aan dié wedloop deelgeneem. Caylin Loock (graad 10-leerder van EHS) het aan die 10km-wedloop deelgeneem. Me. Tirsa du Toit, mnr. Estian Horn en mnr. Stephan van Dyk het 21km gehardloop. Die Erries is besonder trots op mnr. Herman Labuschagne, wat die 90km-wedloop met ‘n uitstekende tyd van 8:27:02 voltooi het.
Vanjaar sou mnr. Labuschagne sy tweede Comrades gehardloop het, maar as gevolg van die implikasies wat COVID-19 op Suid-Afrika het, is die jaarlikse Comrades soos algemeen bekend, afgestel. Die virtuele Comrades is egter geloods en mnr. Labuschagne het nie die kans verby laat glip nie.
Tydens verlede jaar se Comrades het mnr. Labuschagne die wedloop klaargemaak binne ‘n tyd van 9:54:27. Hierdie jaar het hy gemik vir die Bill Rowan. Dit verg dat die atleet die wedloop tussen sewe-en-‘n-half-ure en sub nege ure moet klaarmaak. Mnr. Labuschagne het hierdie Race the Comrades Legends se 90km in ‘n tyd van 8uur 27min. en 02 sekondes afgelê.
Omdat dit ‘n virtuele wedloop is, moes die atlete hul eie roete, waterpunte en mediese bystand reël. Mnr. Labuschagne het vanaf Hoërskool Ermelo na Morgenzon, wat presies 45km van Ermelo af is, en weer terug gehardloop. Mnr. André du Preez het te fiets saam met hom gery en me. Tirsa du Toit het vanaf die agt en dertigste kilometer elke 3km vooruit gery om waterpunte te voorsien.
Die Erries is trots op elkeen wat braaf genoeg was om ten spyte van Ermelo se snerpende koue die wedloop aan te durf, maar in besonder trots op mnr. Labuschagne met die uitsonderlike tyd waarin hy die 90km voltooi het.