Vier uit vyf Errie dogtershokkiespanne speel vir plek 1 en 2 Mpumalanga-finaal
Op Saterdag, 16 Junie 2018 het vyf van Hoërskool Ermelo se dogtershokkie-spanne deelgeneem aan die Mpumalanga kwart- en semi-finale rondes.
Die o/14A-span het te Ligbron Akademie vir Tegnologie gespeel. In hul kwarteind-rondte speel hul teen Hoërskool Piet Retief en wen gemaklik met 6-0. Die doele is aangeteken deur Carla Ferreira, Frané Swart, Surika Struwig, Caylin Loock, Danel Olivier en Kayla van der Meyden. In die semi-finaal speel hulle teen Hoërskool Volksrust en wen ook met 6-0. Baie geluk aan Carla Ferrreira en Caylin Loock wat elk twee doele slaan. Kayla van der Meyden en Danel Olivier het elk een doel aanteken.
Die Erries se o/15A-span het by Hockey Farm gespeel. In die kwarteind-rondte speel hulle teen Hoërskool Middelburg. Dit was ‘n baie harde wedstryd. Na die eindfluitjie geblaas het, is die telling 0-0 en vind “8 seconds” plaas waarna die telling weer gelykop is met twee doele vir elke span. Hier slaan Anke Krüger en Margha Greyling elk een doel. Die Erries wen in “sudden death” met 3-2. Margha Greyling het die wendoel aangeteken. Hierdie span weet wat Errie-guts is en gee nooit op nie. In die semi-finaal kom hierdie span te staan teen Hoërskool Standerton. Met net vyf minute oor, teken die Erries twee doele aan en wen die wedstryd 2-1. Anke de Kock en Mignon Ferreira het die twee doele aangeteken.
Die o/16A-span het `n baie moeilike wedstryd gehad teen Hoërskool Middelburg op Curro Secunda se Astro. Hoërskool Middelburg se span speel uitstekende hokkie en die Erries verloor met 8-0.
Hoërskool Ermelo Calstar Eerste-dogtershokkiespan en die Tweedespan speel hulle wedstryde op Curro Bankenveld se Astro. Die tweedespan speel in die semi-finaal teen Hoërskool Middelburg en wen gemaklik met 5-0. Die doele is aangeteken deur Jani Hattingh, wat drie doele slaan en Zelné de Jager wat twee doele aangeteken het.
Hoërskool Ermelo Calstar Eerste-dogtershokkiespan het in die kwart-finaal gespeel teen Hoërskool Hoogenhout. Hierdie was `n maklike wedstryd vir die Erries en die eindtelling is 8-0. Baie geluk aan Ansu Klopper wat drie doele slaan, Yonette Fourie en Kyla Grobler wat elk twee doele slaan en Nicole van der Merwe wat een doel aanteken. In die semi-finaal het die Eerstespan teen Ligbron gespeel. Die Erries speel aanskoulike hokkie en wen die wedstyd maklik met 5-1. Baie geluk aan Ruané Huber wat twee doele geslaan het, Kyla Grobler, Ansu Klopper en Kelly-Anne Bourn wat elk een doel geslaan het.
Die Erries is trots op hul o/14A-, o/15A-, Tweede- en Eerstespan wat almal deurdring na die Mpumalanga-finaal wat plaasvind op 21 Julie. Die spanne speel vir nommer een of twee in Mpumalanga.
Baie geluk en dankie aan elke dogter wat hierdie naweek ‘n suksesvolle hokkie-naweek gemaak het.
Foto bo:
Voor: Janicé Harmse, Nicole Venter, Nicole van der Merwe, Dané du Plessis
Middel: Kyla Grobler, Ansu Klopper, Yonette Fourie, Hanné Swart, Klarissa Joubert, Hannah Cloete
Agter: Kelly-Anne Bourn, Lydia Landman, Marla Oosthuizen, Berné de Kock, Simoné Ferreira,
Leandri Beyer, Ruané Huber













