Mnr. Freek en me. Cecile Carelse
EHS is opgewonde om die nuwe eienaars van die gimnasium by die Erries te verwelkom: Freek en Cecile Carelse. Die gimnasium staan nou bekend as O2Oxygen Fitness and Sports Performance.
Reeds tydens hul hoërskooljare op Volksrust het beide Freek en Cecile die besonderse kultuur van Ermelo opgemerk en in 2007 word hulle Ermeloërs vir vyf jaar, waarna hulle die handelsmerk K-Fit begin het in Nelspruit.
Na vele draaie in elke provinsie in die RSA, asook in Indianopolis VSA, voel hulle bevoorreg om terug te wees in Ermelo. Soos hulle dit stel: “die gemeenskap met warmte en seker die vetste harte in die hele wêreld; ‘n dorp met ‘n ryk kultuur.”
Hul visie vir die gimnasium is om “High Performance” diens te lewer aan die Ermelo-gemeenskap, asook aan al Hoërskool Ermelo se atlete en sportentoesiaste. Hulle wil graag die omgewing van die gimnasium omskep om meer sport-spesifiek te wees met programme wat die seuns en dogters in hul sportsoorte kan versterk onder professionele toesig, hulp en ondersteuning.
Met Freek se ondervinding in Nelspruit by die K-Fit handelsmerk waar hy ook vir vier jaar intens betrokke was by die Puma-rugbyspan se “Strength and Conditioning Team,” glo die Erries dat hulle hul visie hier by Hoërskool Ermelo sal kan uitleef.
Freek en Cecile was ook in 2018 in die VSA, waar Freek ‘n suksesvolle sportafrigter by die universiteit IUPUI in Indianapolis was. Hier het hy geleer en ervaar watter positiewe uitwerking dit het wanneer sportmanne en –vroue trots is op dit wat hulle doen, hard werk om hulself te verbeter en nooit te trots is om te leer nie, selfs by die mees ongeletterde of junior persoon.
Freek en Cecile het in hul omswerwinge net weer opnuut besef hoe God voorsien; dat Hy werklik die suurstof is wat ons inasem, waarsonder geen bestaan of vooruitgang moontlik is nie. Dít was die dryfkrag agter hul gimnasium se naam.
Die gemeenskap van Ermelo word hartlik uitgenooi om ‘n draai te maak by die “O2Oxygen Fitness and Sports Performance” by Hoërskool Ermelo, waar Freek en Cecile met groot entoesiasme gereed staan om ‘n vars asemteug aan die gemeenskap te bied.