Hoërskool Ermelo het op Maandag 19 Oktober met dankbare harte afskeid geneem.
Die matrieks van Erries het oudergewoonte die jaarlikse matriek-kerkdiens bygewoon te NG Kerk Moedergemeente.
Dit is een van die laaste geleenthede wat spesiaal vir die matrieks van Ermelo gereël word. Hierdie mooi tradisie is spesiaal om vir die graad 12’s van die gemeenskap sterkte toe te wens – nie net vir die komende eindeksamen nie, maar ook vir wat die toekoms na skool vir elkeen inhou.
Die boodskap is gebaseer op Abraham wat net moes wegtrek en God vertrou. So moet elke matrikulant en ouer op die Here vertrou om altyd by hulle te wees. Dominee Jan Potgieter, ‘n graad 12-leerder van EHS se pa, het die diens waargeneem. Wat ‘n kosbare voorreg!
Graad 12’s, mag julle krag ontvang om die laaste berg van julle skoolloopbaan met grasie uit te klim en mag julle met geruste harte die uitsig bewonder. Julle het hard gewerk om tot hier te kom.
Hoërskool Ermelo wens elke Errie-graad 12 alle sterkte en voorspoed toe. EHS is trots op die matriekgroep van 2020!