Op Maandag 26 Maart 2018 het die Erries se jaarlikse Groentjieskonsert en alles wat daarmee gepaard gaan, EHS se terrein gevul met gesonde kompetisie en ongelooflike gees. Die oggend se aankoms van die dirigente het die dag op ‘n hoë noot afgeskop.
Die aand het die genot voortgeduur met elke huis: Veltman, Nelstehuis en Dorp, se huisdanse, gevolg deur die konsert wat gehou is deur die graad 8’s. Die temas wat uitgebeeld moes word, was “RESPEK, VINK TOT VALK en ERRIE-VUUR.” Elke huis het ook twee animasiekarakters gehad wat hul in die konsert moes inkorpereer. Ander aspekte wat moes deel vorm van die konsert was ‘n “verrassingselement” wat die middag voor die opvoering aan die huise gegee is: ‘n nuusberig, advertensie en groentjiesdans waar die hele graad 8-groep moes deelneem.
Die danse, dirigente en konserte het weereens gespreek van uitnemende kreatiwiteit, talent en harde werk. Elke huis het na die beste van hulle vermoë presteer.
Huis Veltman, EHS se seunskoshuis, palm die volgende pryse in: Beste dirigente, beste huisdans, beste uitbeelding van tema, beste advertensie, beste kostuums, beste humor, beste storieverteller (Walter van der Walt), beste akteur (Diederik van der Walt), beste konsert, asook die groot prys van die ALGEHELE WENNER!
Nelstehuis, die meisiekoshuis, wen die prys vir die beste dekor, beste nuusberig en beste aktrise (Petra-Marie Arnoldi).
Dorp wen die beste groentjiesdans-prys, asook die beste gebruik van die verrassingselement.
Baie geluk aan elke leerder wat besonder hard gewerk het om ‘n sukses te maak van hierdie jaar se groentjieskonsert.