HOEKOM IS WISKUNDE BELANGRIK? Mev. Susan Naudé – Departementshoof Wiskunde by Hoërskool Die Wilgers
In vandag se moderne wêreld, waar leerders se antwoorde slegs die druk van ’n knoppie vereis, mag jy dalk wonder waarom wiskunde as vak nog belangrik is. Is algebra en trigonometrie werklik ʼn vereiste vir sukses? Moontlik nie, maar daar is soveel meer waarde aan wiskunde as wat jy dalk besef. Hier volg net ’n paar redes waarom wiskunde as vak belangrik is:
Wiskunde ontwikkel kritiese denkprosesse
Met die aanleer van die onderskeie afdelings in wiskunde, sal die leerder belangrike vaardighede aanleer wat in talle ander vakke gebruik kan word, soos byvoorbeeld:
• logiese redenering
• probleem oplossing en
• die vermoë om kreatief te kan dink.
Wiskunde leer jou om data te analiseer deur verskillende patrone te herken; toepaslike vrae te vra en metodes uit te werk om by die antwoord uit te kom. Jy leer selfs metodes om te toets of die antwoord korrek is!
Hierdeur leer jy dus om beide analities, logies en kreatief te dink; ook hoe om ’n probleem op verskeie maniere te benader en dan met ’n logiese en toepaslike oplossing vorendag te kom.
Wiskunde het praktiese toepassings
Jy is dalk nie eensbewus daarvan nie, maar jy gebruik daagliks wiskunde. Wanneer jy jou maandelikse kruideniersware begroting uitwerk of bestanddele afmeet as jy bak, gebruik jy wiskunde. Selfs as jy bereken hoe laat om te vertrek om betyds ’n afspraak na te kom, maak jy van syfers en berekeninge gebruik.
Om vinnig en akkuraat afstande, tye, gewigte en persentasies te bereken, is ’n basiese, maar baie belangrike vaardigheid wat ons daaglikse lewe makliker maak – en dáárvoor moet ons wiskunde bedank!
Wiskunde open verskeie loopbaanmoontlikhede
Die afgelope jare word die akroniem STEM (“Science, Technology, Engineering and Mathematics”) al hoe meer gehoor. Al hierdie rigtings vereis ʼn gevorderde insig en begrip van wiskunde en daar is ’n groot tekort aan gekwalifiseerde kandidate in hierdie loopbaanrigtings. Dit beteken dat studente wat in wiskundige rigtings studeer en goed presteer, vir hulself die weg baan om verskeie winsgewende en opwindende beroepe te betree.
Selfs al wil jy nie ’n wetenskaplike of ’n ingenieur word nie, sal jy vinnig agterkom dat byna elke denkbare beroep in een of ander mate gebruik maak van wiskundige berekeninge. Argitekte en vermaakkunstenaars, fotograwe en mode ontwerpers, marknavorsers en verkoopsagente gebruik almal daagliks wiskunde in die werksplek. Indien jy moeite doen met wiskunde tot in matriek, sal jy na skool ’n wyer veld van loopbaankeuses hê om van te kies.
Wiskunde is die taal van die heelal
Die basiese beginsels en wette van wiskunde help ons om die wêreld om ons te beskryf en te verstaan. In werklikheid is wiskunde nie net die taal van die heelal nie, maar wel ook ’n universele taal.
Om getalle op te tel of om ’n nuwe algoritme te ontwerp, is dieselfde in enige taal; dit maak nie saak waar jy jou in die wêreld bevind nie. Dit alles vorm deel van die opwinding wat in wiskunde as vak opgesluit lê!
Dit is ʼn feit dat wiskunde steeds ’n groot uitdaging bied vir baie leerders, maar tog bly dit ’n baie belangrike vak. Met ’n bietjie moeite en baie oefening kan enige persoon wiskunde as vak bemeester.
https://www.abcmathsandscience.co.za
(12 September 2018)
Hoërskool Die Wilgers het ʼn trotse wiskunde tradisie en bied wiskunde op 4 vlakke aan. Wiskunde (graad 8 – 12), Wiskundige Geletterdheid (graad 10 – 12), Tegniese Wiskunde (graad 10 – 12, mits daar genoeg belangstelling is) en Gevorderde Wiskunde (graad 9 – 12).
Wat is die verskil tussen die verskillende soorte wiskunde?
Wiskunde is ʼn teoretiese vak met praktiese toepassing. Daar word baie klem gelê op die abstrakte denke. D.w.s. die leerder gaan met onbekendes soos x ; y ; α ; β ; θ; sin, cos, tan en formules werk. Hulle het egter minstens ʼn matige aanleg vir hierdie tipe denke nodig.
Wiskunde is noodsaaklik vir tegniese- en wetenskaplike studierigtings en gaan saam met vakke soos FW , IGO, Meganies, IT en Rek.
Wiskundige Geletterdheid is ʼn syfervak met praktiese toepassing in die alledaagse lewe.
Dit is ʼn baie goeie vak vir diegene wat nie spesifiek Wiskunde vir hulle kursus nodig het nie. In hierdie vak leer hulle onder andere om volumes, omtrek en oppervlaktes uit te werk. Water- en elektrisiteitsrekeninge, telefoonrekeninge, bankstate en belastingvorms te ontleed – om maar net ʼn paar te noem.
Tegniese Wiskunde is wiskunde wat net meer ingestel is op dit wat nodig is vir studie in ‘n tegniese rigting. Die klem is dus meer op toepassing en minder op abstrakte idees. U kind kan dan na matriek verder in ʼn tegniese rigting by ʼn geakkrediteerde Tegniese Kollege studeer. Tegniese Wiskunde en Tegniese Wetenskap is ʼn pakket saam met Meganiese Tegnologie en IGO. IT word sterk aanbeveel as ’n ekstra vak as u kind in hierdie rigting belangstel.
Gevorderde Wiskunde word na-uurs teen vergoeding aangebied. Gr. 8- en 9-klasse is inleidend tot Gevorderde Wiskunde. Vanaf graad 10 volg ons ʼn spesifieke sillabus. Kandidate sal na die suksesvolle aflegging van die AP Maths (Gevorderde Wiskunde) Matriekeksamen ʼn nasionale sertifikaat van die Onafhanklike Eksamenraad ontvang.
Voornemende eerstejaar studente wat hierdie vak neem, vind die toelatingseksamen en Wiskunde 1 by universiteite baie makliker as die ander studente. Gevorderde Wiskunde bied ook aan matrikulante ʼn groot voorsprong, aangesien ʼn groot deel van die matrieksillabus in die graad 11 Gevorderde Wiskunde-klas afgehandel word.
Mev. Naude is al vir 41 jaar al in die onderwys waarvan 36 jaar as Wiskunde Onderwyseres by Hoërskool Die Wilgers. Vra jy haar hoekom het sy ‘n onderwyser geword, merk sy dat sy graag haar liefde vir haar vak aan ander wil oordra.