Hoërskool Adamantia van Kimberley se Mnr. & Mej. Addie-finaliste het op 2 Maart, ‘n dans en ‘steakete’ aangebied. Christo & Cobus Snyman was die gaskunstenaars vir die aand.
Die geleentheid was ‘n groot sukses en die gaste het tot laat gedans, gekuier en heerlik geëet.
Hoërskool Adamantia – Mnr & Mej Addie
Mnr. & Mej. Addie is meer as net ’n skoonheidskompetisie. Seuns en meisies kry hier die geleentheid om ‘n bietjie meer van hulself terug te gee aan die gemeenskap en die seuns en meisies leer ook verskeie vaardighede aan.
Vanjaar is die eerste jaar wat Hoërskool Adamantia ook Mnr. Addie-finaliste aanbied en die seuns is baie opgewonde daaroor. Graad 9 tot 12-leerders mag deelneem en elkeen staan ’n gelyke kans om as Mnr. of Mej. Addie weg te stap. Hierdie jaar spog die skool met 16 pragtige Mej. Addie-finaliste en 12 Mnr. Addie finaliste.
In die eerste kwartaal hou Adamantia ’n ‘steakete’ en dans met Christo & Cobus. Dit het plaasgevind in Adamantia se skoolsaal op die 2de Maart.
Elke Mej. Addie-finalis was verantwoordelik om ’n tafel volgens ’n tema voor te berei, dit mooi te versier, kaartjies te verkoop en dan as gasvrou tydens die geleentheid op te tree. Daar is ook drie tafelwenners aangewys, Kayla Collins, Will-Marie Langeveld en Mainie Deetlefs.
Die Mnr. Addie-finaliste moes tydens die funksie help om die steak te braai en ietsie te drinke aan al die gaste voorsien. Die seuns was ook verantwoordelik om kaartjies te verkoop, die meisies dek die seuns se tafels, maar hulle moet steeds as gasheer by hul tafels optree.
In die tweede kwartaal moet elke finalis ’n gemeenskapsprojek aanpak. Dit kan ’n reeds bestaande projek of ’n nuwe projek wees. Saam met hierdie individuele projek gaan die finaliste ook ’n gesamentlike gemeenskapsprojek doen.
Hierdie jaar wil Adamantia die Mnr. Addie-finaliste betrek by ’n kinderhuis en ’n klimraam bou waarop die kinders kan baljaar. Die Mej. Addie-finaliste wil uitreik na ’n Aftree-oord en ’n verskil in bejaardes se lewens maak. Die finaliste moet tydens die geleentheid besef dat dit nie gaan oor wie die meeste geld kan uitgee nie, maar eerder oor wie die meeste van hulself aan die gemeenskap kan teruggee. Dit gaan alles oor die verskil wat jy kan maak.
In die derde kwartaal word daar ’n Mnr. & Mej. Addie-naweek gehou. Die doel van hierdie naweek is dat die finaliste mekaar op ’n ander vlak leer ken en ook voorbereidings kan doen vir die Kroningsaand. Hul werk ook tydens hierdie naweek ’n dans uit en spanwerk is hier baie belangrik. Die meisies en seuns se persoonlikhede kom hier sterk na vore.
Vier beoordelaars van buite die skool voer onderhoude met die finaliste. Die onderhoude help die beoordelaars om die finaliste beter te leer ken en die finaliste kan hul projekte en harte met die beoordelaars deel. Die beoordelaars bepaal dan ook die wenners.
Hierdie jaar wys ons ’n Mej. Addie, 1ste Prinses, 2de Prinses, Mej. Liefdadigheid, Mej. Persoonlikheid en ’n Mej. Fotogenies aan, asook ’n Mnr. Addie, 1ste Prins, 2de Prins, Mnr. Liefdadigheid, Mnr. Persoonlikheid en Mnr. Fotogenies. Die kroningsaand vind op 23 Augustus plaas.
Hoe lyk die perfekte Mnr. & Mej. Addie?
’n Hart wat brand vir sy/haar medemens. ’n Meisie/ Seun met ’n passie vir die lewe, opreg en trots op wie sy/hy is. Mej. Addie en Mnr. Addie sal die volle pakket moet hê, dus sal hy en sy in werklikheid Mej./ Mnr. Persoonlikheid, Mej./ Mnr. Liefdadigheid en Mej./ Mnr. Fotogenies moet wees. Mej. Addie en Mnr Addie sal ander bo haarself/ homself moet stel en as ’n ware ambassadeur van die skool optree. Sy/ Hy sal ’n goeie voorbeeld vir die ander meisies en seuns in die skool moet wees. Dus sal haar/ sy gedrag moet voldoen aan die waardes van die skool. Sy/ Hy sal ander moet inspireer om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Sy/Hy sal ’n definitiewe passie vir die gemeenskap moet hê. Belangrikste van alles… Sy/ Hy moet net haarself/ homself wees.
Wie is verantwoordelik vir Mnr. & Mej. Addie?
Mev. Tanya Jordaan, Mnr. Johan Thomas en Mnr. Hentus Jordaan is verantwoordelik vir die finaliste, die funksies en aktiwiteite wat daarmee gepaard gaan. Juffrou Jordaan het op skool ook aan Mej. Addie deelgeneem en in 2012 is sy as 2de Prinses gekroon. As onderwyser het sy besluit om die projek voort te sit en leerders te motiveer en te help om ’n verskil in die gemeenskap te maak.
Wie is 2019 se finaliste?
Die Mej. Addie-finaliste: Abigail Moka, Alicia de Villiers, Angelique Bekker, Anke Vosloo, Chené Stenekamp, Johané van Aswegen, Kayla Collins, Leané van der Walt, Mainie Deetlefs, Monique Bekker, Morgan Keyser, Nadine van Heerden, Re-Hanna Fouche, RodenePondoyi, Shannet du Plessis en Will-Marie Langeveld
Die Mnr. Addie-finaliste: Armand Smit, Francois Conradie, Ghünter Brits, Hein van der Linde, Jaco Stroebel, Jandrei Pienaar, Jason Fensham, JJ du Toit, Joshua Wilson, Kobus van Eeden, Matthew Weber en Tiaan Erasmus.