Foto vlnr: Danielle Theron, Suzanne Streicher, Trewhella van Aswegen, Vianke Herbst en Mia Olivier. Afwesig: Kayla Olivier
’n Klompie akademiese uitblinkers het gereken hulle kan met hulle harde skoolwerk ander leerders help én ’n geldjie in die proses maak.
Die gr. 11’s Vianke Herbst, Mia Olivier, Suzanne Streicher, Danielle Theron en Trewhella van Aswegen sowel as Kayla Olivier (gr. 9) bied hulle opsommings van skoolwerk en geskrewe toesprake teen betaling aan. ’n Verskeidenheid vakke se opsommings is beskikbaar. Weens Covid-19 word slegs EFT-betalings aanvaar.
Jy kan teen R100 ’n vak se hele jaar se opsommings by hulle bekom. Die pryse van vakke wissel. Hulle het Opsommings.com begin en ’n rekening op Instagram en Facebook geskep. Opsommings.com se Instagram is baie aktief met ’n ledetal wat spoedig toeneem.
Mia het oorspronklik die rekening begin met die doel om ander leerders te help en te motiveer om akademies te presteer. “Meeste van die opsommings is netjies getik en puntgewys uitgelê. Ons sluit diagramme in om die werk makliker te kan verstaan,” verduidelik sy.
Daarna het Mia besluit om haar vriendinne asook haar gr. 9-sussie, Kayla, te betrek om ’n groter verskeidenheid vakke se opsommings beskikbaar te hê. Die grade waarvoor opsommings beskikbaar is wissel van gr. 7 tot gr. 12 en is aanlyn beskikbaar vir skole buite Oranje.
Die opsommings verskil van mekaar aangesien dit deur ses verskillende individue gemaak is, maar al ses leerders is daarop gefokus om hul opsommings so effektief as moontlik vir hulself te maak sowel as die leerders wat dit by hulle aankoop.
Volgens Suzanne sal Opsommings.com sy doel bereik indien dit ’n leerder help om beter op skool te presteer sodat jy eendag jou drome kan bereik.
Vianke noem dat die struktuur van Opsommings.com ook ‘n belangrike rol speel omdat mooi en georganiseerde opsommings ’n mens tien keer beter laat voel.