Vir die netbalspeler Flo Truter het die Covid-19-pandemie ’n ekstra bitter smaak in die mond gelaat.
Flo (gr. 12) het vroeg in die jaar ’n besering opgedoen en kon dus gesamentlik net in vier kwarte van die eerste netbalspan se enkele wedstryde in die eerste kwartaal speel.
“Persoonlik was dit een van 2020 se grootste teleurstellings. Dit sou my eerste jaar in die span wees en ek het die meeste van die vriendskaplike wedstryde misgeloop, so ek het nie juis speelkans gekry nie,” sê Flo, Oranje se hoofdogter van 2020.
“Ek het uitgesien na al die toere waarop ons sou gaan en om weer teen ou bekendes te speel. Dis so ‘n voorreg om die eerstespan-rokkie oor jou kop te kan trek. Op die baan terwyl jy jou alles gee, skree Oranje se ondersteuners oorverdowend.
“Ons doelwit vir die jaar was onder voorste agt spanne in Suid-Afrika te eindig.”
Flo, wat sedert haar gr. 8-jaar telkens die A-span gehaal het, sê hoewel sy baie graag meer wedstryde vanjaar sou wou speel, het sy vrede met die situasie gemaak.
“Ek wil sê ek sal my linkerbeen gee vir nog een wedstryd, maar ek gaan hom dan benodig om te kan speel.. grappie! Ag ek dink ek is nou op ’n punt waar ek klaar vrede gemaak het dat dit nou verby is en dat ek nie iets meer daaraan kan doen nie.”
Soos ’n paar van haar spanmaats wat ook verlede jaar lede van die o.17A-span was, beskou sy 2019 se interskole-kragmeting teen Affies as ’n hoogtepunt.
“Ons het elke jaar ver teen Affies verloor, maar in 2019 het ons gelykop gespeel. Daar is niks lekkerder as ‘n intense wedstryd nie.”
Volgens Flo sou sy haar vier kwarte met niemand anders as haar spanmaats van 2020 wou deel nie.
“Ek het regtig uitgesien om saam met elkeen van julle amazing mense (party ’n bietjie einaardig.. grappie) te speel. Julle is amazing spelers en ek sou nie saam met enigiemand anders my vier kwarte wou speel nie.”
* Die artikel is ’n eerbetuiging aan Flo vir haar diens aan die skool se netbal en vir dit wat sy vanjaar vir die 1ste netbalspan sou beteken het, maar nie die kans gekry het nie.